Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Druk-verdediging’ VS se wapen
Ruan Pienaar trek Stean Pienaar plat toe die Vrystaat en Leeus vroeer vandeesmaand in Bloemfontein gespeel het. Die Vrystaters het sover die minste driee in die Curriebeker-reeks afgestaan. Foto: Gallo Images

Aan die begin van die Vrystaat-Cheetahs se Curriebeker-veldtog het die afrigtingspan die spelers uitgedaag om verdediging op dieselfde vlak as hul aanvallende spel te kry – en dit blyk dat dié versoek nie op dowe ore geval het nie.

Die Vrystaat het tot dusver in sy vier Curriebeker-wedstryde vanjaar net 13 drieë afgestaan – die minste van die sewe spanne in die reeks. Hy het ook die meeste drieë gedruk (22).

Die span is die kwesbaarste op die verdediging wanneer hy besit in ’n aanvallende situasie afstaan.

Die Vrystaters se verdediging het teen die einde van die Pro14-reeks heelwat begin verbeter en dié peil is in die Curriebeker-reeks voortgesit, meen die span se verdedigingsafrigter, Charl Strydom.

“Ja, ons verdediging het aan die einde van die Pro14-reeks verbeter. Dit neem tyd om die nuwe ouens aan die stelsel gewoond te kry.

Druk-verdediging is hoe ons keerwerk beskryf kan word, ons wil spanne onder druk plaas. Ek dink ons het ook goeie lynspoed.
Charl Strydom

“Ons het byvoorbeeld ook baie minder drieë in die Pro14 as in die eerste seisoen afgestaan,” sê hy.

“Druk-verdediging is hoe ons keerwerk beskryf kan word, ons wil spanne onder druk plaas. Ek dink ons het ook goeie lynspoed, veral ’n ou soos Ox (Nché), wat ek dink baie vinnig op die verdediging is.

“Al ons ouens probeer die aanvallende spelers onder druk plaas om omgekeerde besit te kry en ek dink ons doen dit wel. Teen die Goue Leeus het ons byvoorbeeld ses keer omgekeerde besit by die afbreekpunte gekry.

“Daarby het die druk van ons verdedigers gehelp dat ons nog vier keer besit kon omkeer. Die ouens weet ’n duikslag is eers voltooi as jy opgestaan het en weer in die (verdedigings)lyn kom. Gaan kyk maar, die meeste van die tyd het ons 14 spelers op hul voete op die verdediging,” sê Strydom.

Hy sê hulle is trots daarop dat hulle tot dusver die minste drieë in die reeks afgestaan het.

“Ons staan die meeste drieë af wanneer spanne besit teen ons omkeer wanneer ons op die aanval is.

Charl Strydom, verdedigingsafrigter van die Vrystaat-Cheetahs.Foto: Gallo Images

“Ons het gesien teen die Leeus wat ongelooflike vinnige spelers het, en dan ook die naweek teen die Haaie – as jy die bal in die kontaksituasie verloor – staan ons langafstand-drieë af. Dis nooit lekker nie, maar ons werk daaraan om dit te voorkom.”

Strydom sê hy hoop dit gaan Saterdag teen die Pumas selfs nog beter op die verdediging.

“Die Pumas gaan ’n moeilike span wees. Hulle was baie ongelukkig om nie hul eerste drie wedstryde te wen nie en toe skielik klop hulle die Haaie en oorheers die eerste helfte teen die WP.

“Ons weet wat om van hulle te verwag. Dis hul laaste wedstryd in die reeks en hulle gaan met ’n groot aanslag kom.”

Die wedstryd begin om 14:00 en dit gaan vrek warm wees, maar hulle behoort nie daarmee te sukkel nie, want hulle oefen in soortgelyke toestande, sê hy.

Meer oor:  Charl Strydom  |  Bloemfontein  |  Verdediging  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.