Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dry pak sy Blitsbok-stewels weg

Ná meer as ’n dekade by die Blitsbokke het die gordyn gesak oor die strydros Chris Dry se sewesrugbyloopbaan.

Dry het die nasionale sewesspan die eerste keer in Maart 2010 in Australië in ’n toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks verteenwoordig. Hy het voortgegaan en in altesaam 74 toernooie in die reeks gespeel – naas Branco du Preez (75) die meeste deur ’n Suid-Afrikaner.

Chris Dry het die Blitsbokke in 74 toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks verteenwoordig. Hier is hy in aksie by die Dubai-toernooi in 2019. Foto: Getty Images

Die 33-jarige Dry, ’n oudskolier aan Grey Kollege in Bloemfontein, se swanesang was verlede week by die Olimpiese Spele in Tokio.

“Ek het alles bereik wat ek wou, ja, dit is nie die einde waarop ons gehoop het nie. Maar met die geleenthede wat ek gekry het, is ek baie gelukkig en ek groet met ’n gelukkige hart,” sê Dry, ’n voorspeler in sewesrugby.

Hy sê daar was te veel hoogtepunte om een uit te sonder, maar wys onder meer op die goue medalje wat die Blitsbokke in 2014 by die Statebondspele in Glasgow verower het.

“Om die Port Elizabeth-toernooi te wen, ’n paar dae nadat Madiba oorlede is (2013), was spesiaal vir my. Ook om in die Droomspan (ná die 2016-’17-seisoen) ingesluit te word ná ’n jaar waarin ek nie vir die Spele (in 2016) gekies is nie.”

Chris Dry het vir meer as ’n dekade vir die Blitsbokke gespeel. Hier is hy by die Hongkong-sewestoernooi in 2011 in aksie. Foto: Getty Images

Dry se verbintenis met die Blitsbokke het begin toe Paul Treu, destydse breier van dié span, hom in 2009 ná ’n vyftienman-wedstryd tussen die Vrystaat en Boland se o.21-spanne genader het.

“Die eerste dag toe ek daar opdaag, het my oë oopgegaan. Jy oefen saam met ouens wat pas die Wêreldreeks (2008-’09-seisoen) gewen het. Paul Delport, Stick (Mzwandile Stick), Mpho Mbiyozo en Frankie Horne is ouens wat jy net op die TV gesien het,” sê Dry.

“Daardie eerste week was taai, ek dink dit was die moeilikste deel. Ek het gedink ek was fiks, maar daardie was iets heeltemal anders. Toe het ek eintlik besef wat harde werk is.”

Philip Snyman en Chris Dry tydens ’n oefensessie van die Blitsbokke in 2014 in Glasgow, Skotland. Foto: Getty Images

Dié Bloemfonteiner van geboorte het senior provinsiale rugby in die langer weergawe van die spel in 2009 en 2010 vir die Vrystaat gespeel. In 2017 het hy weer 15’s gespeel en dié span in die Curriebeker-reeks aangevoer.

Tussendeur al die hoogtepunte was daar egter ook vir Dry laagtepunte, soos toe hy in 2016 nie die span na die Spele in Rio de Janeiro gehaal het nie. By vanjaar se skouspel het Argentinië die Blitsbokke in die kwarteindronde met 19-14 uitgeknikker.

“Dit was baie teleurstellend. Ek dink die Argentyne het op die veld gegaan en hulle wou dit meer gehad het. Om teen ’n Blitsbok-span te wen en jy het net ses spelers (een Argentyn is vroeg met ’n rooi kaart afgestuur), verg iets besonders.”

Dry sê dit sal vir hom moeilik wees om nooit weer op ’n manier by rugby betrokke te wees nie.

“Vir eers gaan ek bietjie tyd afvat en besluit wat ek eintlik in my lewe wil hê. Ek kyk na my loopbaanopsies en ek beplan ’n paar projekte.”

• Intussen is die Hongkong-sewestoernooi, wat geskeduleer was om van 5 tot 7 November plaas te vind, gekanselleer. Die organiseerders het in ’n verklaring gesê dat die Covid-19-pandemie en die gevolglike reisbeperkings hulle genoop het om die besluit te neem.

Die eerste toernooi van die nuwe seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks word op 18 en 19 September in Vancouver, Kanada, beslis.

Meer oor:  Chris Dry  |  Sewes  |  Blitsbokke  |  Uittrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.