Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Du Preez-broers pootjie nie die Haaie, sê Ollie
Curwin Bosch het ’n puik wedstryd beleef as die Haaie se generaal teen die Waratahs. Foto: Getty Images

Die min speelkans wat Curwin Bosch op losskakel vir die Haaie kry weens Robert du Preez jr. se teenwoordigheid, is nie die rede vir die Durbaniete se gesukkel nie.

Ollie le Roux, ’n voormalige Springbok- en Haaie-stut, voel liewer dit is klein afrigting-probleme wat van dié span ’n wisselvallige een maak.

Ollie le Roux in 2003 vir die Haaie in die Super12-reeks in aksie. Foto: Gallo Images

Die voormalige Haaie-vleuel Tony Watson het verlede week in ’n striemende ope brief gesê die afrigter, Robert du Preez sr., se aandrang om sy drie seuns klokslag te kies, lê die span lam.

Le Roux stem nie saam nie.

“Al drie die Du Preez-boeties is skitterende spelers. Hulle stap in enige span in,” sê Le Roux oor die Springbok-losvoorspelers Dan en Jean-Luc, en die losskakel Robert.

“Curwin Bosch is ook ’n uitstekende speler, so ek sal al vier daai ouens in my span wil hê.”

Le Roux sê hy is bewus daarvan dat Watson en Du Preez sr. nie om dieselfde vuur sit nie. Le Roux glo daar is ander kwessies wat die Haaie kniehalter.

“Ek dink liewer dit is klein afrigting-kwessies wat die span in die steek laat wanneer wedstryde taai raak en veroorsaak dat die Haaie wedstryde verloor wat hulle vroeër oorheers het.

Jy sien dit met verdedigingsfoute, of op die aanval wanneer ouens die bal sommer weggooi laat in ’n wedstryd.
Ollie le Roux

“Jy sien dit met verdedigingsfoute, of op die aanval wanneer ouens die bal sommer weggooi laat in ’n wedstryd.

“As jy dit regmaak, sal die Haaie skitterend vaar, want hulle is ’n puik span. Dalk help dit om iemand van buite in te kry, iemand soos Ian McIntosh, om ’n vars oog te kom gooi.”

Robert du Preez (nr. 22) en Jean-Luc du Preez, wat nie in die foto gesien kan word nie, dop die Waratah-kaptein, Michael Hooper, om in die spanne se kragmeting in Sydney. Foto: Getty Images

Le Roux sê deur een speler te verander, soos om Du Preez jr. met Bosch te vervang, gaan nie die kwessies waarna hy verwys, oplos nie.

“Ek voel in elk geval spelers moet geleidelik gekweek word totdat hulle 24 is.”

Bosch is 21 jaar oud.

“Laat hulle agter iemand speel wat die houe kan vat en later kan hulle na vore tree. Jonny Sexton het agter Ronan O’Gara gespeel en vandag is hy ’n legende.

“Ek wil hê spelers moet op 30 legendes wees, nie op 21 nie. Want niemand is op 21 reeds ’n legende nie.”

Bosch het Saterdag in Sydney goed vertoon op losskakel in die Haaie se sege met 23-15 oor die Waratahs. Le Roux sê hy hoop die span kan op dié vertoning voortbou.

“Die Haaie onderpresteer en dit frustreer almal. Hulle behaal een goeie sege en dan verloor hulle weer. As hulle een of twee kwessies kan oplos, sal dit baie beter gaan.”

Die Haaie speel Vrydag teen die Crusaders in Christchurch. Volgende week durf hulle die Chiefs in Hamilton aan, voordat hulle na Suid-Afrika terugkeer.

Meer oor:  Robert Du Preez  |  Jean-Luc Du Preez  |  Ollie Le Roux  |  Durban  |  Oud-Springbok  |  Superrugby  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.