Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-trui wink straks vir Duane Vermeulen

Pogings om Duane Vermeulen en Vincent Koch huis toe te bring met die oog op 2019 se Wêreldbekertoernooi is reeds aan die gang.

Duane Vermeulen vir Toulon in aksie. Foto: Getty Images

Dié twee Springbokke, asook Frans Steyn, Faf de Klerk en Pat Lambie, is van die oorsese Bokke wat vanjaar min of geen kans op toetsvlak gekry het nie, maar volgens Rapport se inligting in die Bokke se Wêreldbekerplanne is.

Vermeulen se kontrak eindig in Junie by sy Franse klubspan, Toulon.

Faf de Klerk speel vir die Sale Sharks in Engeland. Foto: Getty Images
Vincent Koch speel sy rugby vir Saracens in Engeland. Foto: Getty Images

Dit sal nie verbaas as sy ou provinsie, die Westelike Provinsie, belangstelling toon om Vermeulen te kontrakteer nie.

Só ’n skuif deur Vermeulen kan selfs met die Bok-kapteinskap beloon word.

Koch, wat dié week ’n gas van Mark Alexander by die Rugby Centurions-bekendstelling in Londen was, se kontrak duur tot Junie 2019 by sy Engelse klubspan, Saracens. Hy is baie waardevol vir hulle en speel tans van die beste rugby van sy loopbaan. Die Bokke sal waarskynlik die hulp van die ­sakereus Johann Rupert moet kry, vanweë sy invloed by Saracens, as hulle Koch reeds volgende jaar terug in die land wil hê.

Met die WP wat oor goeie vaskoppe in Frans Malherbe en Wilco Louw beskik, word die Bulle as ’n moontlike rugbytuiste vir Koch genoem

Die eerste prys vir die Bokke sal wees as Vermeulen-hulle wel terugkeer. Dit vergemaklik sake onder meer met die Bokke se voorbereidings.

Gebeur dit nie, kan Vermeulen met 39 toetse nogtans volgende jaar vir die Bokke speel ingevolge die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se kiesbeleid van ’n minimum van 30 toetse vir sy oorsese spelers.

Koch (nege toetse) en De Klerk (11) voldoen nie aan die vereiste nie. Dit beteken dat Saru sy oorsese kiesbeleid moet wysig of hulle terug in Suid-Afrika moet kry. Weens die gelddruk wat die plaaslike unies en Saru beleef, is dit geen maklike uitdaging nie.

De Klerk het ’n driejaarkontrak met die Engelse klubspan Sale Sharks gesluit. Hy het hom ná vanjaar se Superreeks vanaf die Leeus by hulle aangesluit. Die wyse waarop hy in Europese speeltoestande aangepas het, het beïndruk nadat hy vanjaar sy plek in die Bok-span verloor het.

Pat Lambie vir Racing92 in Frankryk in aksie. Foto: Getty Images

Steyn was grootliks as ’n plaasvervanger in die reeks teen Frankryk betrokke. Hy kan vorentoe ’n veel groter rol in die Bokke se beginspan speel. Steyn het al in 56 toetse gespeel.

Dis onseker tot wanneer sy kontrak by die Franse klub Montpellier duur.

Die Bokke se planne met Lambie, soos in die geval met De Klerk, is effens verrassend.

Frans Steyn.

Toe Lambie vroeër vanjaar van sy gesamentlike Bok-kontrak en een by die Haaie vrygestel is, het min mense hom ’n kans gegee om ná sy kopbeserings enige sukses by die Franse klubspan Racing 92 te behaal. Hy is selfs aangeraai om liefs uit te tree voordat bekend gemaak is dat sy kontrak by Racing 92 tot 2021 duur.

Lambie, wat sy land al in 56 toetse verteenwoordig het, het egter die laaste tyd van die beste rugby van sy loopbaan gespeel. Al kan die Franse Top14-liga nie met toetsrugby vergelyk word nie, speel hy weer met selfvertroue en skop goed.

Hy speel met die hulp van ’n nuwe kopskerm ook sonder enige vrees.

Lambie, Vermeulen en Steyn sal die Bokke waardevolle ervaring met die oog op die Wêreldbeker bied. Met slegs twee jaar voor die rugbyskouspel in Japan, en Rassie Erasmus wat van volgende jaar af die grootste sê in die Bok-kamp sal hê, is die beplanning dat Koch-hulle van 2018 af gereeld vir die Bokke moet speel om enige noemenswaardige sukses in Japan te verseker.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Frans Steyn  |  Pat Lambie  |  Vincent Koch  |  Faf De Klerk  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.