Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Duane kry groot lof ná Bulle-sege oor Leeus

Net soos wat Duane Vermeulen in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland die voorste Springbok op die veld was, was hy Saterdag op Loftus Versfeld ’n talisman vir die Bulle.

Duane Vermeulen, agtsteman en kaptein van die Bulle, stamp die Leeus-haker, Jaco Visagie, Saterdag met minagting uit sy pad op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Die Bulle was ná rustyd gerieflik met 14-0 voor in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Leeus.

Enkele minute later was die telling 14-14 nadat die besoekers in die bestek van twee minute soveel keer toegeslaan het.

Dan het jy die koelkop en kalmte van Vermeulen nodig.

“Jy moet nooit onderskat wat ’n goeie kaptein vir ’n span beteken nie. Duane was uitstaande in die manier hoe hy dinge hanteer het en met die spelers gepraat het. Dit is inspirerend,” het die Bulle-afrigter, Jake White, gesê.

“Onthou, ons was 14-0 voor en oomblikke later was dit 14-14. Daar het nie paniek by ons ingetree nie en Duane se rol kan nie gering geskat word nie.”

Duane was uitstaande in die manier hoe hy dinge hanteer het en met die spelers gepraat het.
Jake White

Hoewel die Bok-agtsteman stil-stil ’n werkesel was, “is hy op ’n ander vlak”, meen White.

“Hy het regtig goed gespeel. Hy het beslis ook as ’n speler ’n impak gemaak en nie net as ’n leier nie.

“Dit is wat jy wil hê, dat jou beste spelers invloedryk is in sulke belangrike wedstryde.”

Vermeulen was nie die enigste senior Bul wat na vore getree het nie.

Cornal Hendricks het sy soveelste voortreflike vertoning as binnesenter gelewer en is as die Speler van die Wedstryd beloon.

Die toekenning kon net so maklik aan die skrumskakel Ivan van Zyl gegaan het.

Ook sy skakelmaat, Morné Steyn, het weer sy waarde onderstreep.

Steyn se puik rolskoppie in die Leeus se kwartgebied wat op die vleuel Stravino Jacobs se eerste drie uitgeloop het, was ’n juweel en kan ’n eindstryd op sy kop keer.

White is hoopvol dat Vermeulen, Hendricks en Steyn-hulle ook volgende Saterdag in die eindstryd teen die Haaie die hoofrol op Loftus sal speel.

Die Bulle-breier is gevra of hy dink die teenstander in die eindstryd (die Westelike Provinsie en die Haaie moes toe nog sake op Nuweland uitbaklei) sal, soos die Leeus, ’n meer aanvallende benadering hê.

“Daar word in die stadium reën voorspel vir volgende naweek. As hulle (die Haaie) gesien het hoe die Leeus gespeel het, is dit goed vir ons, want hul het nog nie so gespeel die seisoen nie.

“Dit sal beteken dat hulle heeltemal sal moet afwyk van hulle spelpatroon.

“Toe ek die Springbokke afgerig het, het ons in 2007 in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Argentinië gespeel en hulle het ook probeer hardloop teen ons.

“Hulle het heeltemal afgewyk van hoe hul in die groepfase gespeel het (die Poemas het met 13-37 verloor).”

“Ek hoop hulle kom hierheen met die plan om die bal punte toe te stuur, want die lugdruk en die kontras van die rugby wat hul sover gespeel het, sal vir ons geleenthede skep.

“Ons het goed verdedig vandag en ek glo hulle sal meer direk speel en skop.”

Meer oor:  Pretoria  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Duane Vermeulen  |  Jake White  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.