Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Duane loof kopdokter Gericke

Nie vir die eerste keer nie is die werk van die bekende sportsielkundige Henning Gericke uitgelig as ’n groot faktor in die welslae van ’n sportspan.

Henning Gericke (met die wit hemp), die Bulle se sielkundige, vier die spelers se welslae saam met hulle in hul kleedkamer in die hart van Loftus Versfeld. Foto: Verskaf

Hierdie keer is die lofsanger Duane Vermeulen, die Bulle se kaptein, wat vandeesweek as Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Jaar gekroon is. Gericke het met die Bulle gewerk in hul triomftog in die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reekse.

“Ek dink dit was ’n puik aanwins vir ons span,” sê Vernmeulen oor Gericke.

“Ek dink om ’n sielkundige afrigter te hê in Henning, wat met spelers gewerk het deur die omstandighede wat teweeggebring is deur die Covid-19-pandemie en die feit dat daar nie toeskouers toegelaat is by wedstryde nie, was ’n yslike bonus.

“Ons het ’n goeie opset en ek hou werklik daarvan. ’n Paar jaar gelede sou ek nie gesê het dat ek vir die Bulle sou speel nie, maar dis ’n puik opset.

“Ons verkoop die konsep van die ‘Bulle-familie’ aan elke speler wat by die span aansluit en probeer ook daardeur na die publiek uitreik.”

Henning Gericke het sy vonkelwyn uit die Curriebeker ruim verdien, meen Duane Vermeulen, die Bulle se kaptein.Foto: Verskaf

Vermeulen was ook vol lof vir Jake White, die Bulle se afrigter, wat destyds vir Gericke betrek het om saam met die Springbokke te werk. Suid-Afrika het toe in 2007 die Wêreldbeker-toernooi gewen.

“Jake het met sy koms gesê hy soek ’n sekere standaard en dat indien hy nie die regte mense het nie, hy hulle sal vind om vir hom te speel. Dit pas in by sy benadering en denkwyse. Hy was in die kol met baie dinge,” sê Vermeulen.

“Van nou af vorentoe gaan daar baie uitdagings wees. Aanvanklik moes ons die opvangwerk doen. Nou is ons ná die wen van die Unlocked- en Curriebeker-reekse die voorlopers. Nou moet jy dinge in plek kry om daar te kan bly, gemotiveerd bly en spelers sielkundig op die regte koers te hou.”

Vermeulen het ook gesels oor die Bulle se leuse – “24”.

Henning Gericke (sielkundige) en Duane Vermeulen (kaptein), ’n wenkombinasie vir die Bulle. Foto: Verskaf

“Ons wou poog om die Curriebeker die 24ste keer vir die Bulle te lig,” sê hy.

“Ons het ’n jong groep gehad en as jy hulle nie iets gee om op te fokus nie, sal hulle konsentrasie verloor. Henning het baie gehelp om spelers gefokus te hou en met die uitvoering van wat ons wou bereik. Ons is baie gelukkig oor die uitkoms. Nou lê die moeilike werk voor.”

Oor sy toekenning as Speler van die Jaar is Vermeulen nederig. As dit van hom afgehang het, sou hy die wenner eerder sy spanmaat Cornal Hendricks gemaak het.

“Cornal was in my oë die speler wat uitgestaan het, as jy in ag neem waar hy was en waarvandaan hy gekom het in terme van sy harttoestand,” sê Vermeulen.

“Hy’s ’n vleuel wat senter toe geskuif is en het puik rugby gespeel. Hy was die Curriebeker se Speler van die Jaar en Speler van die Wedstryd in die eindstryd. Hy sou my keuse gewees het.”

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.