Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Duane se Bok-rus ’n ‘groot slag’

Duane Vermeulen en Handré Pollard sal tydens die Bulle se toer na Australasië huis toe gestuur word om hul Bok-ruskans te kry.

Pote Human. Foto: Gallo Images

Vermeulen, wat Vrydagaand teen die Crusaders op Loftus Versfeld meer as sy kant gebring het om besit by die Kiwi’s af te neem, sal net in die twee Super-wedstryde teen die Australiese spanne speel. Hy sal egter nie die Bulle se toer in Nieu-Seeland, waar hulle teen die Blues en die Highlanders te staan kom, meemaak nie.

Dit beteken hy sal teen die Rebels en die Brumbies kan speel voordat hy huiswaarts keer vir sy ruskans.

“Handré moet een wedstryd uitsit. Ons sal dus kyk hoe dit op toer gaan. Hy speel baie rugby en ons kan dalk besluit om hom vir twee wedstryde te rus. Ons sal egter eers mooi kyk hoe die toer verloop.”

Human sê hy sal hom hou by die Bokke se versoek, maar dit is ’n slag om Vermeulen te verloor.

“Om ’n ou soos Duane af te staan, is ’n slag. Hy het weer vanaand gewys hy is in ’n ander klas. Hy is wêreldgehalte. Hy sit sy lyf op die spel.”

Met Vermeulen wat die laaste twee wedstryde van die toer gaan misloop, beteken dit Tier Schoeman sal sy kans op agtsteman kry.

Hanro Liebenberg, wat die ander opsie op agt is, sal nie saam toer nie weens harsingskudding.

“ ’n Mens voel jammer vir hom, maar hy sal weer ’n kans kry. Hy was baie goed teen die Reds. Hy is honger, hy wil weer ’n kans hê en hy wil wys wat hy kan doen.”

Ná sy span se nederlaag teen die Crusaders het Human gesê hulle gooi nie tou op nie.

“Ons sal moet aanhou veg, dis al wat ons kan doen.”

“Hulle het ons ore aangesit en alle krediet aan hulle. Ons het baie foute gemaak en hulle het munt daaruit geslaan.

“Dit sal goed wees om die ouens nou uit dié omgewing weg te vat en vir ’n ruk lank alleen te wees.

Ons is baie teleurgesteld. Ons wou die ondersteuners trots maak, veral diegene wat die week gewys het hulle wil ons nog ondersteun.
Pote Human

“Ons is steeds in die wedloop. Ons sal aanhou veg.”

“Ons weet ons is beter as wat ons vanaand (Vrydagaand) was. As jou houding reg is, kan jy enigiets vermag. Dit was net nie goed genoeg nie,” het hy bygevoeg.

“Ek dink ons het goed in die tweede helfte teruggekom en het toe baie goeie rugby gespeel. Maar hulle was net briljant op enige omkeerbesit.

“Soms het ons ook die verkeerde besluite geneem, maar dis een van daardie dinge.

“Hulle is ’n goeie span en ’n mens kan dit nie van hulle wegvat nie. Dit is hoekom hulle twee jaar ná mekaar die kompetisie gewen het. En hulle is sterk op pad om dit weer te doen.”

Human sê die span sal oorsee moet wen, beginnende met hul wedstryd teen die Rebels in Melbourne Vrydagoggend. En hy glo om nou ’n ruk lank weg van die huis te wees, kan net vir die Bulle voordelig wees.

“Die Rebels is ons eerste fokus en ons sal ons beste moet doen om te kan wen. Ons beskik oor die regte spelers en ek glo ons het ook die span om dit te doen.

“Daar is daar geen verskonings nie. Ons het ’n ongelooflike omgewing hier op Loftus. Ons is baie naby aan mekaar, maar oorsee bly almal saam en jy kan klein vergaderings hê om die ouens bymekaar te bring en hulle só te stimuleer om in mekaar en die span te glo.”

Oor die groot nederlaag Vrydagaand sê Human hy is veral teleurgesteld om so voor die 23 000 mense te speel wat munt geslaan het uit die goedkoop kaartjies om hulle Loftus toe te lok.

“Ons is baie teleurgesteld. Ons wou die ondersteuners trots maak, veral diegene wat die week gewys het hulle wil ons nog ondersteun. Ons is teleurgesteld in ons vertoning.

“Nou moet ons maar net hoop ons kan dit regstel.”

Dit was ’n dingetjie hier en daar en hulle het ons elke keer hard gestraf.
Handré Pollard

Pollard het op sy beurt gesê dit was die “klein dingetjies” wat die Bulle se ondergang beteken het.

“Dis was ’n tawwe wedstryd en hulle is ’n span van gehalte.

“Maar dit was klein foute wat ons gekelder het. Dit was ’n dingetjie hier en daar en hulle het ons elke keer hard gestraf.

“Ek het gedink ons het in die eerste helfte ’n paar geleenthede gehad, maar daar was altyd ’n fout en jy gaan nooit só druk bou nie.”

* Die Bulle het Saterdagaand na Australië vertrek.

Die 23-tal wat Vrydagaand gespeel het, asook die skrumskakel Ivan van Zyl, haker Johan Grobbelaar, stut Conrad van Vuuren en die heelagter Warrick Gelant sal die toer meemaak.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Crusaders  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.