Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Duane: Titel is lekker, maar WB ons doelwit
Ons het hom, Kwagga. Die Bok-slot RG Snyman (regs) en Kwagga Smith wens mekaar geluk nadat die Springbokke die Rugbykampioenskap met ’n oortuigende sege in Salta beklink het.Foto: Getty Images

Die verowering van hul eerste Rugbykampioenskapstitel in tien jaar is ’n belangrike mylpaal vir die Springbokke – maar in die geheel gesien is dit eintlik niks meer nie as ’n trapklip na hul eintlike doelwit vir 2019: Wêreldbeker-glorie.

Dít is Saterdag deur die Springbok-kaptein, Duane Vermeulen, benadruk nadat hy en sy spanmaats Argentinië in alle fasette oorheers het om met 46-13 te seëvier.

Vir net die tweede keer ooit – en die eerste keer sedert 1998, toe dit nog die Drienasies-reeks was – het die Bokke die Suidelike Halfrond se kampioenskap onoorwonne afgesluit. Niemand sal stry dat hulle inderdaad die beste span van die kompetisie was nie, met ’n oortuigende sege oor Australië en ’n gelykop-uitslag in Nieu-Seeland, wat Saterdag se slagting voorafgegaan het.

En tog, sê Vermeulen, is die Bokke ver van die voltooide produk.

“Ek dink vir ons is die belangrikste om te werk aan ons bestendigheid,” het hy ná die oorwinning in Salta gesê. “Ons het die Kampioenskap begin deur te fokus op die uitvoering van ons planne, en ons is bly oor hoe die kompetisie verloop het, maar daar is nog ’n paar dinge om aan te werk.

Die foto vertel die verhaal. Handré Pollard (nr. 10), Willie le Roux en Makazole Mapimpi vier fees, met die Argentyne teen die planke in Salta.Foto: AP

“Dis ’n wonderlike gevoel om weg te stap met die titel, maar aan die einde van die dag is dit net ’n trapklip vir ons met die oog op die Wêreldbeker. Ek wil benadruk dat ons wil werk aan ons bestendigheid en ons doelwitte vanjaar wil verwesenlik.”

Nadat Australië vroeër Saterdag vriend en vyand verras het met ’n groot sege van 46-27 oor Nieu-Seeland, moes Suid-Afrika net in Salta wen om sy eerste titel sedert 2009 te beklink. Dat die Bokke egter op meer as net die Kampioenskap gefokus het, is duidelik in die voltal van vyf punte wat hulle ingeoes het.

Met die sielkundige benadering van die span kan nie fout gevind word nie – en soos Vermeulen self te kenne gee, is die berge wat hulle by die Wêreldbeker sal moet klim te hoog vir sagte koppe.

“Nieu-Seeland het ’n taai wedstryd gehad (teen Australië) en sal honger wees om terug te slaan,” het hy gesê.

“Ons sal móét goed voorberei (vir die ontmoeting met die All Blacks in hul eerste Wêreldbeker-wedstryd op 21 September).

Duane Vermeulen probeer deur die arms van die Argentyn Matias Moroni bars, met Malcolm Marx by om te help, in die Bokke se Rugbykampioenskapswedstryd teen die Poemas in Salta.Foto: Getty Images

“Maar ons is tevrede met waar ons tans is. Die oorwinning is ’n wonderlike ding vir ons land, want almal weet as die Springbokke goed vaar, is almal in Suid-Afrika gelukkig.”

Die Bokke se voorlaaste wedstryd voor die Wêreldbeker-toernooi wag Saterdag op Loftus Versfeld, wéér teen Argentinië. Daarna is daar nog net een slypkans, teen Japan op 6 September.

Meer oor:  Argentinië  |  Duane Vermeulen  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Salta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.