Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Duane Vermeulen word ’n Bul

Die Bulle het die toutrekkery met die Westelike Provinsie gewen om die dienste van die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen te bekom.

Vermeulen het ’n gesamentlike aanbod van die Blou Bulle Maatskappy (BBM) en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) aanvaar en Loftus Versfeld sal nou sy tuisveld in volgende jaar se Superreeks wees. Die WP se aanbod aan hom was onsuksesvol.

Die Bok-agtsteman Duane Vermeulen.Foto: Gallo

Totdat hy volgende jaar op Loftus begin sweet, sal Vermeulen sy kontraktuele verpligtinge by sy Japanse klubspan Kubota Spears nakom.

Hy sal ná volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan ’n tweede keer terugkeer na Frans Ludeke se klubspan, Kubota, waar hy tot vroeg in 2020 sy salaris sal verdien.

Die 32-jarige Vermeulen se besluit om in 2019 sy rugby in Suid-Afrika te speel en nie verder met die Engelse klubspan Bath te onderhandel nie, is een van die grootste treë vorentoe wat Rassie Erasmus sover as Bok-afrigter met die oog op volgende jaar se Wêreldbekertoernooi gegee het.

Danksy die nasionale kontrak wat Vermeulen laat besluit het om nie oorsee te gaan nie, sal Erasmus hom nou volgende jaar ten volle kan bestuur.

Sedert Erasmus as die Bok-afrigter aangestel is, het hy ook spelers soos Beast Mtawarira, Trevor Nyakane en Warren White­ley met die hulp van nasionale kontrakte in die land gehou. Al dié spelers het soos Vermeulen oorsese opsies gehad.

Vermeulen kan weens sy Japanse kontrak nie vir vanjaar se Rugbykampioenskap oorweeg word nie. Hy is weer vir einde van die jaar se toer na Europa beskikbaar.

In Vermeulen se afwesigheid is Whiteley die sterkste aanspraakmaker op die 8-trui vir Saterdag se toets teen Argentinië in Durban. Sikhumbuzo Notshe, Francois Louw en Cyle Brink is Erasmus se ander opsies op agtsteman.

Die Bokke sal nietemin Vermeulen se ervaring mis. Net ­
Pierre Spies het in meer toetse (47) op agtsteman vir die Bokke gespeel as Vermeulen en Gary Teichmann, wat dié trui albei 42 keer gedra het.

Vermeulen, wat in 2015 laas Superrugby gespeel het toe hy nog ’n Stormer was, kan selfs ’n sterk aanspraakmaker op die Bulle se kapteinskap wees.

Met hom en ander Bokke soos Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka, Jason Jenkins, Lood de Jager, RG Snyman, Marco van Staden, Roelof Smit, Ivan van Zyl, Embrose Papier, Handré Pollard, Jesse Kriel, Travis Ismaiel en Warrick Gelant het die Bulle ’n sterk groep met die oog op die 2019-seisoen.

Die Bulle sal hoop Vermeulen se besluit beïnvloed ook Schalk Brits se besluit.

Brits het die week bevestig dat hy tot ná die Wêreldbekertoernooi rugby sal speel. Hy het egter aan Rapport gesê hy moet nog besluit of hy hom by die Bulle, Stormers of ’n oorsese klubspan aansluit.

Brits het vanweë sy besluit om nie nou uit te tree nie, sy MBA-studie aan Cambridge tot ná die Wêreldbeker uitgestel.

Hy is nie die week by die Rugbykampioenskap-groep ingesluit nie, maar kan later betrek word. Malcolm Marx, Akker van der Merwe en Bongi Mbonambi is die hakers in die huidige Bok-groep.

“Ons sal die Wêreldbeker met die hakers in die groep kan wen,” het Erasmus die afgelope week op ’n nuuskonferensie in Stellenbosch gesê.

“Maar as Malcolm en een van die ander beseer word, is ons in die moeilikheid. Ouens soos Schalk en Bismarck du Plessis kan dalk nie eens die Wêreldbekergroep haal as die drie ander (Marx, Mbonambi en Van der Merwe) fiks bly nie.

“Ons praat met Schalk. Hy wou uittree. Hy is egter fiks genoeg om langer te speel. Hy praat met ’n paar klubs. Ek wil hom hier en daar gebruik om hom deel van die planne te hou vir ingeval ons op sy knoppie moet druk.”

  • Papier en Gelant is in die proses om hul kontrakte by die Bulle te verleng. Die WP onderhandel ook met hulle, maar die verwagting is dat hulle in Pretoria sal aanbly.
Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Springbokke  |  Bulle  |  Duane Vermeulen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.