Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dubai al kans vir Blitse om vir Spele te slyp

Die Blitsbokke hoop vir ’n lewenslyn vanuit Dubai om voor die begin van die Olimpiese Spele weer internasionale sewesrugby te kan speel, anders sal plaaslike wedstryde hul enigste opwarming wees voor hul Spele-aanslag later vanjaar.

Die SA-sewesakademiespeler Shilton van Wyk voer ’n duikslag uit teen SAS-sewes in hul oefenwedstryd Vrydag op die Markötter-stadion in Stellenbosch. Foto: Ashley Vlotman, Gallo

Terwyl Dubai se grense tans vir reisigers vanuit Suid-Afrika gesluit is, is die Springbok-sewesspan hoopvol dat hulle die groen lig sal kry om einde volgende maand toegelaat te word om te vlieg.

“Ek weet ons gaan dit presies afpas met Dubai, maar ons is hoopvol ons sal daar kan speel,” het Neil Powell, afrigter van die Blitse, gesê.

Die Blitse was oorgehaal om in ’n uitnodigingstoernooi in Madrid teen van die voorste seweslande te speel, totdat reisbeperkings in Spanje ’n stokkie voor daardie plan gesteek het.

Powell het daarop gewys dat dit maar moeilik vir hom gaan wees om sy spelers gemotiveerd te hou, veral ná die Spanje-afjak en dat een in Dubai ook ’n gevoelige slag kan wees.

“Jy kan net die ouens tot op ’n punt probeer motiveer met die onsekerheid waarin ons ons tans bevind. Ná daardie punt sal die motivering van hulself moet kom.

“Ons kan oefen so veel ons wil, maar dit gaan nie die ouens voorberei vir wat in daai wedstrydsituasie gebeur nie. Die besluitneming op die aanval en verdediging, hoe vinnig om op te spring en weer te werk. Sulke dinge.

“As ons nie vorentoe internasionale kompetisies kry nie, sal ons kyk om plaaslike toernooie te probeer reël teen mededingers wat so sterk as moontlik is.”

Wat wel in die vooruitsig vir die Blitse kan wees, is moontlike wedstryde teen sewesspanne van die verskeie provinsies kort voor die Spele.

Daar word agter die skerms gewerk om die franchises te nader om hul derde- en vierdelinie-spelers toe te laat om in ’n toernooi in Pretoria teen die Blitsbokke te speel. Dit sal die spelers van dié franchises ook waardevolle speeltyd gee.

Rapport verneem daar is reeds met SA Rugby en die uitvoerende hoofde oor die moontlikheid vergader.

Goeie nuus vir Powell-hulle is dat die geld wat hulle vir Madrid uitgegee het straks nie verlore is nie.

Dit kan dus aangewend word vir ’n moontlike toernooi of twee, of selfs indien die Blitse hul groep met die oog op die Spele wil versterk.

“Ons het nog altyd die ondersteuning van SA Rugby gehad. As ons genoegsame motivering kan gee waarom ons die ouens wil inkry, en hoe hulle moontlik ons kan help tot ’n goue medalje, glo ek ons sal dit afgeteken kry. Hetsy dit met SA Rugby of Olimpiese geld is.

“Daar word ook op ’n gereelde basis met Jurie (Roux) en Rassie (Erasmus) gesels oor die Britse Leeus en watter spelers hulle gebruik en wie tot ons beskikking gaan wees. Dis sodat ons nie ons hoop op ’n ou gaan sit en dan word hy opgeraap deur die Bokke nie.”

Die Blitse het die afgelope week ’n goeie koppestamp-sessie met ’n Russiese klubspan, onder leiding van die voormalige Blitsbok Vuyo Zanga gehad, met nog ’n voormalige Springbok-sewesster, Frankie Horne, se sewesspan van die Stellenbosch Sportakademie.

Hulle sal weer op 4 en 5 Maart teen mekaar speel, met Powell wat hoop dat hy ouens soos Impi Visser, Ryan Oosthuizen, Neil Maritz en Ronald Brown speelkans kan gee. Die viertal herstel nog van beserings.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Blitsbokke  |  Madrid  |  Dubai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.