Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Duhan blom in Skotse trui ná sy drie
Duhan van der Merwe op pad doellyn toe teen Georgië. Foto: Getty

Daardie glimlag toe hy die doellyn oorgesteek het vir sy drie en sy gebalde vuis wat hy teen sy bors geslaan het, het die vreugde van Duhan van der Merwe se Skotse debuut opgesom.

Van der Merwe was een van Skotland se driedrukkers in hul sege van 48-7 oor ’n begeesterde Georgië op Murrayfield, in wat die besoekers se eerste internasionale stryd in 229 dae op dié geskiedkundige veld was.

Die Skotte het agt drieë op pad na die sege gedruk en dit was welkome opwarming vir Gregor Townsend se groep voor hul Sesnasies-wedstryd komende naweek teen Wallis.

Die 26-jarige Van der Merwe het ’n lang pad met die Edinburgh-rugbyklub in die Pro14-reeks gestap voordat hy uiteindelik sy kans gekry het om Skotland te verteenwoordig.

Hy het Vrydagaand met sy vaart byna onaangeraak Georgië se verdedigingslyn gesny ná ’n puik binne-aangee om te gaan druk. Tog sou hy ’n bietjie meer van homself op die aanval, veral in ruimte, wou ten toon stel.

Met sy liggaamsbou van 106 kg en 196 m is hy ook goed as ’n baldraer ingespan wanneer hy agterlangs die bal gekry het.

Suid-Afrika se verlies is Skotland se wins, met dié boorling van George in die Suid-Kaap wat onlangs nog oor sy internasionale opsies gewik en weeg het.

Townsend sal bly wees dat Van der Merwe besluit het om Skotland sy tuiste te maak.

Dié voormalige Bul-vleuel is nou saam met Oli Kebble, ’n voormalige Stormers-stut wat ook sy debuut gemaak het, en Cornell du Preez die Suid-Afrikaners wat Murrayfield hul tuisveld noem.

Dis juis ’n kraglopie van Kebble wat die bal op die voorvoet verskaf het wat tot Van der Merwe se drie gelei het.

Skotland se sege oor die Georgiërs was maklik met die eerste drie wat ná twee minute se spel gedruk is.

Tot kort voor die 30ste minuut was dit omtrent ’n armdrukkery tussen die spanne met die besoekers wat alles geduik het wat na hul kant toe gekom het.

Maar dit was net ’n kwessie van tyd voordat die damwal uiteindelik sou breek en Georgië nie meer die Skotte se aanvalle kon uithou nie.

Dis veral Skotland se verwoestende rolmaalbewegings waarmee die Georgiërs gesukkel het, terwyl daar ook strafskop ná strafskop teen die Lelos, soos Georgië bekend staan, uitgedeel is.

In die tweede helfte het die Skotte voortgegaan waar hulle opgehou het ná die eerste 40 minute met die kaptein, Fraser Brown, wat van ’n rolmaalbeweging af sy tweede drie gedruk het.

Vyf drieë in die tweede helfte het Skotland se oorheersing onderstreep.

Tog was daar oomblikke wat gewys het die Skotte het nog rugby agter die blad nodig as hulle enigsins ’n faktor in vanjaar se Nasiesbeker-toernooi wil wees. Daar was goeie oomblikke op die aanval, maar ook te veel foute wat hul momentum by tye erg gekniehalter het.

“Dit was ’n sterk oefenstryd vir ons voorspelers,” het Townsend volgens SkySports gesê.

“Die bal was glibberig en daar was ’n paar foute van albei spanne. Ons was nie vlot op die aanval nie, maar ons pak voorspelers was uitstekend.

“Ek was regtig in my noppies met die skrums en die rolmaalbewegings.”

  • Puntemakers: Skotland 48 (17): Drieë: Darcy Graham (2), Fraser Brown (2), Hamish Watson, Stuart McInally, Duhan van der Merwe, Blair Kinghorn. Doelskoppe: Adam Hastings (4). Georgië 7 (0): Drie: Akaki Tabutsadze. Doelskop: Tedo Abzhandadze.
Meer oor:  Skotland  |  Duhan Van Der Merwe  |  Murrayfield  |  Georgië  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.