Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dweba slaan vure dood ná artikel

Die gewese Cheetah-haker Joseph Dweba sê hy is glad nie ondankbaar vir wat die Cheetahs vir hom gedoen het nie, al wou dit so voorkom in ’n berig wat Dinsdag op ’n internasionale rugbywebwerf verskyn en die sosiale media aan die gons gehad het.

In dié onderhoud met ’n Britse rugbyjoernalis op rugbypass.com verwys Dweba na die karige kontrak wat hy by die Cheetahs aangebied is. In die onderhoud praat hy ook oor sy lewe as kind en sy grootworddae in Carletonville en sy opgang in rugby, asook die behandeling wat hy by die Cheetahs gekry het.

Joseph Dweba is dankbaar vir wat die Cheetahs vir hom gedoen het, ongeag die karige kontrak wat in 2017 vir hom aangebied is. Foto: Gallo Images

Hy moes sedertdien vure doodslaan om te keer dat brûe nie verbrand word nie.

’n Plaaslike rugbywebwerf, rugby365.com, het dié artikel gesien en daaroor berig. Dit was op grond van dié berig dat Hawies Fourie, die Cheetahs se hoofafrigter, op rugby365 se Facebook-blad kommentaar gelewer en gesê het die aanbod was g’n karig nie en dat Dweba die speler met die naasgrootste kontrak by die unie sou wees, as hy dit aanvaar het.

Dweba sê egter daar was ’n misverstand oor na watter aanbod hy in die onderhoud met die oorsese webwerf verwys het.

“Ek het glad nie oor die aanbod gepraat wat die Cheetahs nou, voordat ek besluit het om Frankryk toe te gaan, aan my gemaak het nie. Die aanbod ter sprake was twee jaar gelede, want dit was nie ’n goeie kontrak nie. Dit het daarop neergekom dat ek dit moet vat of ek waai,” sê hy.

“Die aanbod wat Hawies (Fourie, hoofafrigter) aan my gemaak het was ’n ongelooflike een, en ja, ek sou die naashoogste betaalde speler by die unie gewees het. Dit was ’n ou aanbod wat in die onderhoud ter sprake was, ek sê niemand sleg nie. Hawies het my werklik ’n goeie aanbod gemaak. Skryf dit, hy het my ’n goeie aanbod gemaak.”

Ek verstaan nie hoekom stories verdraai word nie.
Joseph Dweba

Hy sê voorts die trant van die plaaslike rugbywebwerf se berig laat dit nou lyk asof hy ondankbaar is en dit is beslis nie die geval nie.

“Ek verstaan nie hoekom stories verdraai word nie. Die storie het niks te make met die kontrak wat Fourie my aangebied het nie.”

Fourie, wat nie die Cheetahs se breier was toe die vroeëre aanbod aan Dweba gemaak is nie, sê hy het intussen met Dweba kontak gemaak en die lug tussen hulle is gesuiwer.

Hawies Fourie en Joseph Dweba het die lug gesuiwer en daar is geen kwade gevoelens nie. Foto: Gallo Images

“Joseph het ’n klomp goed gesê oor sy verlede by die Cheetahs. Dis vir my sleg dat hy dalk net die slegte goed genoem het wat gebeur het. Daar gebeur maar met enige speler goed wat nie lekker is nie op ’n sekere tyd in sy lewe en hy kom oor dit en hy word dalk beter, word sterker en gaan vorentoe,” sê Fourie.

“So die Cheetahs kon nie vir hom so sleg gewees het en die afrigters waarna hy verwys, kon nie vir hom so sleg gewees het as jy kyk hoe sy loopbaan op die ou einde ontwikkel het en dat hy tans op die rand van die Springbok-groep is nie. Dit sê vir my dat sy tyd by die Cheetahs vir hom goed was en hy het gister self vir my gesê hy is baie lief vir Bloem, vir die mense en vir die Cheetahs.”

Daar het nou ’n paar goed gebeur waaroor Dweba ongelukkig was en dit was die goed waaroor die joernalis hom uitgevra het, sê Fourie.

“Hy het dalk nie so ver gedink om die goeie kant van die Cheetahs ook uit te lig nie. Daar’s geen kwade gevoelens nie. Ek en Joseph het daaroor gepraat, ons verstaan mekaar. Ek het ook vir hom gesê hy moet maar versigtig wees wanneer hy met die media praat, dat hy seker is dit wat hy sê, is wat hy bedoel of dat wat hy bedoel, is wat geskryf word."

Meer oor:  Cheetahs  |  Joseph Dweba  |  Hawies Fourie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.