Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dyantyi: 4 jaar geskors oor opkikkers

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het die Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi tot 12 Augustus 2023 verbied om aan rugby deel te neem of te administreer, asook enige ander sport in Suid-Afrika en internasionaal.

Geskors: Aphiwe Dyantyi Foto: Anton Geyser, Gallo Images

Saids het hom Vrydag volgens regulasie 21 van Wêreldrugbyreëls 2018 vir ’n tydperk van vier jaar geskors nadat hy op 13 Augustus 2019 in kennis gestel is dat hy positief vir drie verbode middels getoets is.

Terwyl Saids nog nie amptelik sy vonnis bekend gemaak het nie, is Rapport in besit van die elektroniese brief wat aan Dyantyi gestuur is om hom oor sy straf in te lig.

Die 26-jarige Bok is in Julie 2019 positief getoets vir die gebruik van die anaboliese steroïede metandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033. Sy verhoor sou reeds in Mei plaasvind, maar die Covid-19-pandemie het sake vertraag.

Sy verhoor het uiteindelik tussen 15 September en 5 November 2020 plaasgevind.

Dyantyi se agent, Gert van der Merwe, het by navraag aan Rapport gesê hulle is erg geskok deur die uitslag.

“Die uitspraak maak net geen sin nie.

“Ek moet nog die volledige uitspraak lees. Ek en die regspan sal die uitspraak volgende week ontleed en besluit of ons gaan appelleer.

“Ek kan nie nou enige besonderhede gee nie aangesien die saak nog nie afgehandel is nie.

“As dit van my afhang, sal ons beslis appelleer. Die probleem is dat dit baie geld gaan kos. Aphiwe het 18 maande laas ’n salaris ontvang. Ons is nou besig om te kyk wat ons kan doen.

Ek glo dit is die verkeerde uitspraak. Aphiwe kan dit ook nie glo nie.

“Ek glo dit is die verkeerde uitspraak. Aphiwe kan dit ook nie glo nie. Ons het begin regmaak om weer te begin speel.”

Rapport is bewus van belangstelling van plaaslike franchises wat hom vir volgende jaar se Pro16 wou kontrakteer.

Rapport het by bronne verneem Dyantyi het in sy verweer aan Saids gesê hy het die verbode middels op 30 Junie 2019, twee dae voordat sy urienmonster geneem is, onwetend tydens ’n gimoefensessie saam met ’n vriend ingekry. Dyantyi het glo uit die vriend se bottel gedrink en só die verbode middels ingekry.

Die vriend, wat Dyantyi van kindsbeen af ken, het hom einde Augustus 2019 gebel en meegedeel dat hy weet waarom die Bok-vleuel positief getoets het. Uit wat hy bekend gemaak het, blyk dit dat die vriend twee verbode middels gemeng het.

Die Bok-vleuel het uit respek vir hul vriendskap nie die naam van sy vriend genoem nie.

Hy was wel kwaad vir hom, maar het hom vergewe omdat hy dit nie met opset gedoen het nie.

Dyantyi het nie, volgens Rapport se bronne, ’n beëdigde verklaring van die vriend ingedien nie en dus moes hulle sy woord daaroor aanvaar.

Bronne het aan Rapport gesê Dyantyi was by die Bokke betrokke toe hy positief getoets is en dit was nie vir hom nodig om iets te gebruik nie.

“Die Bokke weet hulle gaan in aanloop tot die Wêreldbeker baie getoets word, so net iemand wat breindood is, sal steroïede gebruik,” het ’n bron gesê.

“Hy was besig om reg te maak vir die Rugbykampioenskap en word drie keer in vyf tot ses weke getoets. Die een kom negatief terug. Die tweede een positief en die derde een weer negatief. Dit wys hy het dit nie met opset gebruik nie. Al drie toetse is deur Saids gedoen. Dit maak nie sin nie.”

Dyantyi, wat in 2018 as Wêreldrugby se Deurbraak-speler van die Jaar aangewys is, kan weens sy skorsing ook 2023 se Wêreldbeker misloop soos die geval met verlede jaar s’n in Japan was.

Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids, wou nie kommentaar oor die kwessie lewer nie en het net gesê hulle sal môre ’n verklaring daaroor uitreik.

Meer oor:  Verbode Middels  |  Geskors  |  Saids  |  Aphiwe Dyantyi  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.