Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
E-pos laat bom in WP Rugby bars

Goedkeuring van lewenslange lidmaatskap aan ’n man wat sê hy dat hy “nie witmense vertrou nie”, ’n “netto wins” van bykans R413 miljoen vir die 2018-boekjaar en ’n sterk saak wat aan lede gemaak word ten gunste van transaksies met Flyt Property Investment en Dream World Investments 401.

Dít is van die inhoud in dokumente uit die kantore van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) wat vandeesweek per e-pos aan sy lede gestuur is voor ’n beoogde vergadering van sy hoofraad wat vir Saterdag by Nuweland geskeduleer is.

Netwerk24 het dié e-pos gesien.

Die aanhegsels in die e-pos het onder meer notules van vergaderings van die WPRU se uitvoerende komitee sedert 2020 en finansiële state sedert 2018 ingesluit.

Die e-pos is Woensdagaand uitgestuur en kort daarna herroep.

Sedertdien is die vergadering afgelas op grond daarvan dat die geouditeerde finansiële state vir 2019 nog nie beskikbaar was nie.

In notules van ’n vergadering van die WPRU se uitvoerende komitee wat op 12 Februarie verlede jaar gehou is, word onder meer onthul dat lewenslange lidmaatskap vir Gerald Njengele goedgekeur is. Hy was van 2003 tot 2018 raadslid en vise-president van WPRU.

Volgens sy notules van ’n vergadering op 12 Februarie het die WP Rugbyunie se uitvoerende komitee lewenslange erelidmaatskap aan Gerald Njengele gegee. Foto: Verskaf

Njengele het, luidens ’n berig in Rapport in Junie 2019, in ’n tugverhoor erken dat hy die woorde “I don’t trust white people” gebruik het.

Njengele was aanvanklik vir vier jaar vir ’n oortreding van die WPRU se gedragskode geskors vir beweerde uitsprake teen wit- en bruinmense in ’n voorval ten tyde van die Kaapstad-sewesrugbytoernooi in 2017. Hy het dit ontken.

Hy is ná appèl vrygespreek, maar het tog uit sy amp as vise-president bedank.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, het vasgeskop teen ’n eiendomstransaksie by Nuweland met Investec Property. Foto: Gallo Images

Zelt Marais, WPRU-president, het op ’n navraag oor die lidmaatskap-kwessie in die e-pos gesê die unie se grondwet bepaal dat enige lid van die uitvoerende komitee wat minstens 10 jaar agtereenvolgens dien, “outomaties” ’n lewenslange lid word.

Die finansiële state in die e-pos was dié van die unie, nie van die unie se maatskappy wat beroepsrugby bedryf nie.

Vir die boekjaar van 2018 word ’n netto wins van bykans R413 miljoen aangedui.

Dit is egter geskep deur ’n aangepaste waardasie van meer as R411 miljoen van die WPRU se eiendomme, en is dus nie ’n akkurate weerspieëling van sy geldsake nie.

Die probleme met 2019 se finansiële state spruit glo voort uit ’n verskil tussen die WPRU en ouditeurs oor waardasie-metodes vir die eiendomme.

Marais het aan Netwerk24 gesê dat die finalisering van die geouditeerde state “buite die beheer” van WP Rugby is.

“Die rede vir die oponthoud is van ’n hoogs tegniese aard en aangesien dit vertroulik is, mag dit nie aan nie-lede onthul word nie.”

Die inhoud van die notules kan straks moeilike vrae in klubgeledere ontketen.

Dit sluit in fyn besonderhede van hoe die raadslede Kevin Kiewitz, Peter Jooste en Spencer King gewaarsku het oor die nagevolge indien die WPRU sou besluit om nie ’n transaksie met Investec Property vir die ontwikkeling van die Nuweland-stadion deur te voer nie.

Terwyl die WP Rugbyunie nou ’n ander deuntjie sing, is daar verlede jaar intern ’n sterk saak ten gunste van die transaksies met Dream World en Flyt gemaak. Foto: Verskaf

Marais het egter sterk vasgeskop teen die transaksie en toe vir Dream World en Flyt na die tafel gebring. Die hoofbepalings van ’n ooreenkoms met Investec is toe reeds geteken.

Volgens die notules het Marais op ’n vergadering van die WPRU-hoofraad, wat die klubs insluit, ’n sterk saak gemaak vir die transaksies met Flyt en Dream World deur die “beter” kommersiële voorwaardes en voordele vir aandeelhouers, asook die “beter finansiële model”.

Volgens dié ooreenkoms sou die WPRU meer as R110 miljoen by Dream World, ’n filiaal van Flyt, leen om historiese skuld aan Remgro en Investec te betaal.

Die WPRU en Flyt sou dan gelyke vennote wees in ontwikkelingsmaatskappye vir beoogde ontwikkelinge by Nuweland en Brookside.

Sedertdien voer die WPRU aan dat die ooreenkomste ongeldig is – eerstens op die punt dat Dream World bygekom het wanneer die beoogde transaksies met Flyt sou wees en tweedens dat die transaksie weens die onderwaardering van Nuweland teen die openbare belang indruis.

Die notules wys egter dat die WPRU nie onkant betrap is deur Dream World se betrokkenheid nie.

Só het die WPRU se hoofraad op 30 Junie 2020 oor die transaksies met Dream World en Flyt gestem. Foto: Verskaf

Dream World dagvaar die WPRU tans vir sowat R145 miljoen, terwyl Flyt afsonderlik honderde miljoene rande van die unie eis.

Oor die Flyt- en Dream World-kwessies het Marais gesê dat dit tans in litigasie is.

“Ons is nie by magte om in dié stadium die kwessies te bespreek nie. Alles sal met verloop van tyd duidelik word.”

Meer oor:  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Dream World  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.