Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eales: WB sal Aussie-rugby help blom

As Australië die bod kan wen om rugby se Wêreldbekertoernooi in 2027 aan te bied, sal dit tot ’n oplewing in dié sport in die land lei, sê John Eales.

Eales was die kaptein van die Wallabies wat die Wêreldbeker in 1999 in Cardiff gewen het en hy was ook in die span wat in die WB-eindstryd in 1991 in Londen baas was.

Rugby het die afgelope paar jaar heelwat veld verloor in Australië en die Wallabies is tans maar net sewende op die wêreldranglys.

“Australië is baie goed daarmee om groot, internasionale byeenkomste aan te bied en dit sal ook so wees met die 2027-Wêreldbekertoernooi,” sê Eales, wat ’n lid van die raadgewende komitee vir die Aussies se bodkomitee is.

John Eales glo rugby sal ’n oplewing in Australië toon indien die land die bod wen om die Wêreldbekertoernooi in 2027 aan te bied. Foto: Getty Images

“Dit sal iets ysliks wees om die toernooi in 2027 hier te hou. Jy het nie net die wonderlike agt weke waarin die toernooi gespeel word nie, maar ook die aanloop tot die toernooi.”

Eales meen ook dat Australië dan ná die WB-toernooi ook steeds die vrugte sal pluk met die oplewing wat daar dan in rugby in die land sal wees.

“Die bod is ook ’n belangrike stap om vir jong mense iets te gee om na te mik,” sê Eales.

Argentinië het intussen sy bod om die toernooi in 2027 aan te bied, onttrek.

Met Rusland die enigste ander land in die wedloop, lyk dit of Australië ’n goeie kans het om die bod te wen. Die Aussies het in 2003 die toernooi aangebied en was in 1987 ’n mede-gasheer saam met Nieu-Seeland.

• Australië se Superrugby-spanne sal Vrydag en Saterdag beter vertonings in die Trans-Tasmaanse reeks teen Nieu-Seeland se franchises moet lewer as wat laas week die geval was.

Die Crusaders-vleuel George Bridge sal eers oor ongeveer ses weke weer kan rugby speel nadat hy ’n blindedermoperasie ondergaan het. Foto: Getty Images

Nie een van die Aussie-spanne kon wen nie, hoewel die Reds ’n verskoning gehad het en die Western Force ongelukkig was om nie met die Chiefs af te reken nie.

Die twee lande se kampioenspanne, die Reds en die Crusaders, pak mekaar Saterdag in Brisbane in ’n wedstryd wat met belangstelling dopgehou sal word.

Albei spanne was nie verlede week op hul beste nie aangesien hulle die vorige week nog in hul lande se onderskeie eindstryde betrokke was.

Albei spanne het hierdie week ’n paar staatmakers, soos Harry Wilson en Tate McDermott vir die Reds en Mitchell Drummond en Will Jordan vir die Crusaders, terug in hul beginspanne.

Die Crusaders sal egter sonder die vleuel George Bridge, wie se blindederm Dinsdag uitgehaal is, wees.

Die bepalings is:

Vrydag: 09:05: Hurricanes t. Rebels. 11:45: Western Force t. Highlanders.

Saterdag: 06:35: Blues t. Waratahs. 09:05: Chiefs t. Brumbies. 11:45: Reds t. Crusaders. – Reuters, The Guardian, AAP

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.