Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eben bránd om terug op veld te kom

Jy kan jou goed indink dat Eben Etzebeth se drome die laaste paar weke gevul was met oomblikke waarin hy Wallabies en All Blacks têkkel dat hul tande klap.

Eben Etzebeth was skoon blinkoog terwyl hy Donderdag in Pretoria oor sy terugkeer na die rugbyveld gepraat het. Foto: Deaan Vivier

In die afgelope agt maande het die ysterslot immers net in nege wedstryde uitgedraf. Hy het eers las van ’n rugbesering gehad, waarna ’n gebreekte hand hom vroeg in Junie op die kantlyn gedwing het. Toe hy Donderdagmiddag in Pretoria gepraat het oor hoe hy brand om ’n slag terug op die veld te kom, was dit met ’n stemtoon wat geen twyfel laat nie: hy bedóél dit.

“Ek oefen nou weer voluit, so ek sal reg wees vir die Bokke se eerste wedstryd,” sê Etzebeth.

Ek glo as ’n speler sy nasionale trui aantrek, gaan alles anders weg. Dan maak dit nie saak wat in provinsiale wedstryde gebeur het nie. Die Wallabies sál volgende week ’n baie sterk span wees.

“Ek is bitter opgewonde, ek kan nie meer wag nie. Ek wil nou net op die veld kom en hierdie besering behoorlik agter my sit. Ek was laas in November in die Springbok-trui en dis tog vir daardie trui wat ons rugby speel, daar is niks groter as dit nie.”

Franco Mostert, wat deesdae vir Gloucester in Engeland speel, is een van vele slotte wat Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, tot sy beskikking het. Foto: Getty Images

Terwyl Rassie Erasmus Dinsdag bevestig het dat Lood de Jager aanstaande Saterdag een van die slotte in die beginspan teen Australië sal wees, is dit nog onduidelik wie sy slotmaat sal wees. Erasmus het ’n propvol slotspens om uit te kies, daarom neem Etzebeth dit nie as vanselfsprekend dat hy net terug in die Springbok-span sal stap nie.

Hy het in die loop van die onderhoud selfs die frase “as ek gekies word” gebruik.

“Ek dink dis vir Rassie ’n lekker kopseer dat hy soveel slotte het om uit te kies,” sê Etzebeth.

“Ons het vir RG (Snyman), Lood, Franco (Mostert) en Marvin Orie – en dan kan Rynhardt (Elstadt) en Pieter-Steph (du Toit) ook nog daar ingespan word. Dis baie goed vir ons dat daar soveel kompetisie is.”

Die Kaapse slot sê daar is ook nie enige sprake daarvan dat Australië se teleurstellende Superrugby-veldtog sal oorspoel na die vertonings van hul nasionale span nie.

“Ek glo as ’n speler sy nasionale trui aantrek, gaan alles anders weg. Dan maak dit nie saak wat in provinsiale wedstryde gebeur het nie. Die Wallabies sál volgende week ’n baie sterk span wees,” glo hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.