Eben Etzebeth sê hy was met die polisie in verbinding en hulle het hom verseker hy is van enige skuld gevrywaar in die aanrandingsaak wat ondersoek word na aanleiding van ’n voorval by ’n kuierplek in Langebaan.
“Hulle sê als is reg. Nou kan ek net op die Wêreldbeker-toernooi fokus,” het Etzebeth Maandag by die aankondiging van die WB-groep in Randburg aan Netwerk24 gesê.

Eben Etzebeth kry Sonny Bill Williams saam met Duane Vermeulen in ’n wurggreep beet in die Bokke se toets teen die All Blacks vanjaar in Wellington. Foto: Getty Images
Daar is Sondag op sosiale media beweer Etzebeth was Saterdagaand by Die Watergat-kroeg betrokke by ’n rassistiese voorval en aanranding nadat sy groep vriende met ’n ander groep mans slaags geraak het. ’n Ander man is daarna glo in ’n afsonderlike voorval in die straat aangerand.
Twee mense moes hospitaal toe gehaas word.
Etzebeth het Sondag op sosiale media ontken dat hy betrokke was. Hy het dit Maandag herhaal.
“Ek sien dit is groot nuus. Ek was daar, maar ek het niemand fisiek aangeraak of enige rassistiese aanmerkings gemaak nie,” sê die 27-jarige Springbok-slot.
Dit was vir hom sleg om die aantygings op sosiale media te sien.
“Dit is meer as vreemd om dit te sien, dit is glad nie lekker nie. Die WB-groep word vandag aangekondig en ek is veronderstel om myself te geniet, so dit was nie lekker nie.”
Hy glo egter nie die herrie gaan sy aandag van die toernooi aflei nie.
Die WB-groep word vandag aangekondig en ek is veronderstel om myself te geniet, so dit was nie lekker nie.
Eben Etzebeth
“Ek sien net uit om Vrydag op daardie vliegtuig Japan toe te klim en om daar uit te kom.”
Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, sê hy was bekommerd toe hy Sondag van die voorval hoor.
“As daar enige waarheid daarin gesteek het, sou dit ’n reuse-kwessie vir ons gewees het,” sê Erasmus.
“Maar ek het met Eben gepraat en sy kant van die storie gehoor. Daar is uiteraard vertroue tussen ’n afrigter en ’n speler.
“Ek moet hom vertrou om wedstryde vir ons te wen en hy moet my vertrou om hom te glo as hy vir my iets sê.
As dit wel waar was, sou iemand soos dit nooit ons groep gehaal het nie.
Rassie Erasmus
“Ek is tevrede met dít wat hy vir my vertel het. Jy kan nie net goed glo wat mense op sosiale media sê nie. Ek is vol vertroue dat dit nie waar is wat op sosiale media gesê is nie.
“As dit wel waar was, sou iemand soos dit nooit ons groep gehaal het nie. Dit sou ’n enorme probleem gewees het as dit waar was. Maar dit is nie. Dit is net ’n gerug.”
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het in ’n verklaring gesê Etzebeth is deel van die Springbok-groep en sal een bly “tensy die polisie ons vra om dit te heroorweeg”.
Volgens Etzebeth se uitsprake gaan dít nie gebeur nie. Sers. Noloyiso Rwexana, die provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het Sondag aan Netwerk24 bevestig ’n klag van aanranding is ingedien. Rwexana kon nie Maandag bereik word om te bevestig of Etzebeth van enige skuld gevrywaar is nie.
Dit sou gewis vir Erasmus ’n groot slag gewees het as sy voorkeur-nr. 4-slot hom tydens die toernooi in Japan na Suid-Afrika moes terughaas om in die hof te getuig.
Die nuus van Etzebeth se teenwoordigheid by Die Watergat was nie die enigste skoknuus wat die rugbylandskap die naweek getref het nie.
Die kookwatervleuel Aphiwe Dyantyi het erken hy het ’n opkikkertoets gedop. Dyantyi se B-monster moet nog getoets word en die middel waaraan hy positief getoets het, is nog onbekend.
Erasmus het Maandag gesê hy het eers op 13 Augustus gehoor Dyantyi het positief getoets.
Dyantyi, wat terselfdertyd met ’n besering gesukkel het, sou ongeag dié uitslag nie die groep gehaal het nie, sê Erasmus.