Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Eben praat nie met Engelse klub’

Hokaai, wag ’n bietjie!

Dit was Donderdag die reaksie van Eben Etzebeth se agent, Hilton Houghton, ná ’n berig in Engeland dat die Leicester Tigers besig is om die Springbok-ysterslot te lok oor die moontlikheid van ’n skuif ná aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi.

Eben Etzebeth / Foto: Gallo Images

“Eben is ’n speler van wêreldgehalte so daar sal van oral af belangstelling wees. Ek kan egter bevestig dat die sogenaamde navrae oor sy beskikbaarheid nie my kant toe gekom het nie. Dis skinderstories,” sê Houhgton.

“Eben is ten volle gefokus om vir die Springbokke op hul jaareindtoer te speel.”

Die gerug oor Etzebeth is die tweede binne ’n week wat ’n top-Springbok met ’n moontlike skuif Engeland toe verbind. Verlede week is in die Engelse media berig dat Saracens en Wasps in die Bok-kaptein, Siya Kolisi, belang stel.

Engelse klubs gooi nou reeds hul lyne in die water met die wete dat die kontrakte van die room van Suid-Afrika se spelers meestal aanstaande jaar tot ’n einde loop.

Daar is ook gerugte dat die Franse klub Toulon bereid sal wees om vir Etzebeth ’n salaris van €900000 (nagenoeg R14,8miljoen) per seisoen te betaal.

Terwyl ’n uittog van spelers ná ’n WB-toernooi ’n algemene verskynsel is, is daar ook ’n groot geelwortel vir spelers om vas te byt tot 2021 se reeks teen die Britse en Ierse Leeus.

Die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) het ook vasgeskop teen ’n onwettige kontrak wat die Engelse klub Gloucester met die Bok-slot Franco Mostert aangegaan het.

Gloucester sal nou ’n stewige oordragfooi moet betaal vir die Leeus om vir Mostert ’n klaringsertifikaat te gee. Indien die situasie nie so beredder word nie, kan dit moontlik in ’n dispuut by Wêreldrugby eindig.

Die voortslepende kwessie kan tot die Bokke se voordeel wees, want dit sal beteken dat Mostert beskikbaar in die Bokke se toets teen Engeland op Twickenham op 3 November kan speel. Daardie wedstryd val buite Wêreldrugby se toetsvenster, wat beteken dat ander sterre soos die skrumskakel Faf de Klerk en heelagter Willie le Roux – onderskeidelik aan Sale en Wasps gekontrakteer – nie beskikbaar sal wees nie.

Francois Louw. Foto: Gallo Images

’n Interessante ontwikkeling uit Suid-Afrika se besluit om spelers soos De Klerk, Le Roux en die flank Francois Louw vanuit Engeland op te roep, is dat klubs se entoesiasme om die spelers op hul boeke te hê skynbaar kwyn.

Dai Young, Wasps se direkteur van rugby, het voor onderhandelinge met Le Roux oor ’n moontlike verlenging van sy kontrak gesê dat sy afwesigheid wanneer die Bokke speel ’n probleem geskep het.

“Willie het gedink sy internasionale loopbaan was verby, maar daar was ’n verandering van afrigter en Rassie (Erasmus, die Bok-afrigter) het dit duidelik gemaak dat hy hom terug wil hê,” het Young luidens ’n berig deur rugbypass.com gesê.

“Ons het nie verwag dat hy in die Rugbykampioenskap en op die jaareindtoer vir die Bokke gaan speel nie.”

Le Roux word nou gekoppel aan ’n skuif Bulle toe.

Louw se kontrak met Bath verstryk aan die einde van die Europese seisoen en daar is ’n moontlikheid dat hy nie ’n nuwe een aangebied gaan word nie.

“Ons het nog nie besluit nie, maar praat daaroor. Daar is baie om op te weeg,” het Bath se direkteur van rugby, Todd Blackadder, luidens ’n berig deur somersetlive.co.uk gesê.

Die berig meld beserings en internasionale diens as moontlike redes vir Bath om nie aan Louw vas te klou nie. Hy is glo een van die beste besoldigde spelers by die klub.

Meer oor:  Bokke  |  Eben Etzebeth  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Francois Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.