Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ebersohn reg om vir Cheetahs te speel

Hy gaan nie slaplê nie. Hy is hier om die span te maak.

So het Robert Ebersohn gesê nadat hy Maandag weer by die Vrystaat-Cheetahs ingeval het.

Terug by die Cheetahs. Die senter Robert Ebersohn het Maandag sy eerste oefening saam met die Vrystaters gehad nadat hy na Bloemfontein teruggetrek het. Foto: Cheetahs

Dié voormalige senter en kaptein van die Vrystaters is vroeër vanjaar deur sy Franse rugbyklub Béziers vrygestel om na Bloemfontein terug te keer.

Ebersohn (32) is in 2013 na Montpellier en in 2016 na Castres waarna hy sedert verlede jaar by Béziers was.

“Dit was vir my lekker om weer hier by die stadion aan te kom en weer daar stil te hou. Dis lekker om Afrikaans te praat en die mense te groet,” het Ebersohn ná sy eerste dag saam met die span gesê.

Hy sê daar was ’n paar ou bekendes wat nog by die unie werk, maar daar is nie van die spelers oor wat destyds saam met hom gespeel het nie.

Hy het hard gewerk en was lekker moeg ná sy eerste oefensessie.

“My lyf voel goed, daar is nie groot dinge wat pla nie. My knieë, enkels en rug – alles voel goed. Dis dalk net ’n bietjie kondisionering wat ek nog kortkom,” het Ebersohn gesê.

Hy het verlede week sessies saam met die span se fiksheidkundige, fisioterapeut en die dokter gehad voordat hy Maandag aangemeld het.

Hy werk hard om so gou as moontlik, selfs die naweek, te kan speel, maar sê as daar gevoel word hy kort nog ’n bietjie werk, sal hy eers later inval.

Die afrigter Hawies Fourie, het gesê Ebersohn sal later ’n kans kry. Hy moet eers sy voete vind.

Ebersohn se koms is aan die vooraand van ’n baie bedrywige tyd vir die Vrystaters.

Saterdag se herontmoeting met die Westelike Provinsie op Nuweland is die eerste van ses Curriebeker-wedstryde wat in 22 dae op hulle wag.

Die Cheetahs se sentergroep is vroeër uitgedun, maar daar is voortydig plan gemaak.

Frans Steyn is aan die Springbokke afgestaan, Dries Swanepoel is na Béziers, William Small-Smith het uitgetree, terwyl die jong Shayne Bolton deur Connact kontrakteer is.

Twee Varsitybeker-sterre, David Brits en Evardi Boshoff, en die ewe belowende Siya Masuku het hulle intussen by Howard Mnisi en Chris Smit aangesluit.

Brits en Masuku het hulle goed laat geld as die senterpaar in die laaste twee wedstryde.

• Die vleuel Rosko Specman is intussen Maandag weer deur die Springbokke ontbied.

Die skrumskakel Tian Meyer, die veelsydige agterspeler Craig Barry en die flank Andisa Ntsila kan die week weer ter sprake kom nadat hulle van hul beserings herstel het.

Meer oor:  Robert Ebersohn  |  Cheetahs  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.