SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Sias verruil gras vir boord en landerye

’n Gebarste blindederm, nie ’n rugbybesering nie, het daartoe gelei dat die veelsydige agterspeler Sias Ebersohn vroeër as beplan sy droom om te boer kon nastreef.

Sias Ebersohn van die Pumas en Michael Claassens van die Haaie. Albei het voorheen hul rugby vir die Cheetahs gespeel. Foto: Gallo Images

Dié losskakel – tweelingbroer van Robert, wat vir die Franse klubspan Castres Olympique speel – is deesdae baas van sy eie plaas in Hartswater in die Noord-Kaap. Hy boer daar met pekanneute, knoffel en lusern.

En, sê die 28-jarige Sias, die plaas kom nie van sy familie nie; hy het gespaar om dit te koop.

Sy laaste wedstryd was op 8 September verlede jaar in die Mbombela-stadion in Nelspruit vir die Pumas in die Curriebeker-reeks teen die Haaie.

“Dit (boerdery) was lank net ’n droom en toe my blindederm bars en ek lank in die hospitaal moes bly, het ek besluit dis tyd dat ek gaan boer.

“Ek het lank gespaar, in April die plaas gekoop en in November begin boer,” sê Sias, wat altyd skerts dat hy voor Robert gebore is.

Saam met sy vrou, Elette, en sy dogters, Mailey (3) en Kara (1), en drie werkers woeker Ebersohn van vroegdag reeds op sy plaas.

Sias Ebersohn in aksie vir die Vrystaat-Cheetahs in die Curriebeker-reeks in die 2012-seisoen. Foto: Gallo Images

“Dit gaan goed op die plaas, maar dis warm. Gelukkig is hier ’n klomp ooms wat help en daarby woon my skoonouers ook hier,” sê Ebersohn.

“Om met neute te boer, is duur. As die hael jou neute tref, is dit verby. Dit is net so intensief soos om byvoorbeeld met skape te boer.

“Ek boer op klein grond met baie water en in ’n sterk gemeenskap.”

Hy sê wat hy in sy dae as rugbyspeler geleer het, kom nou handig in sy boerdery te pas.

“Die dissipline wat ’n speler moet hê, is iets wat ek elke dag toepas. Ook die planne wat ons as rugbyspelers gehad het en moes deurvoer, dit help alles.”

“Dit was nog altyd my droom om te boer, maar ek moes strategies gedink het oor waar ek koop en of die prys reg was. Nou kyk ek vorentoe, want ek wil ’n sukses van my boerdery maak.”

Sias Ebersohn lê aan pale toe vir die Western Force teen die Cheetahs in Bloemfontein in die 2014 Superrugby-reeks. Foto: Gallo Images

Sias het sy eersterangse buiging in 2008 vir die Vrystaat gemaak. Hy het tot 2012 vir Vrystaat gespeel en weer van 2015 tot 2016 en altesaam 235 punte vir die Vrystaters aangeteken.

Van 2013 tot 2015 het hy vir die Western Force van Australië in die Superrugby-reeks gespeel.

Hy het ook in 2008 en 2009 vir die Junior Springbokke uitgedraf. Sy loopbaan het oor 148 wedstryde gestrek en hy het 636 punte aangeteken.

Gaan hy rugby mis?

“Nie soseer die spel nie, maar die vriende wat ek oor die jare gemaak het. In rugby was daar moeilike tye en boerdery is maar dieselfde.”

Meer oor:  Boerdery  |  Uittrede  |  Sias Ebersohn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.