Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eddie jag Bokke se skrumghoeroe

Die Springbokke se skrum-ghoeroe, Matt Proudfoot, gaan waarskynlik volgende jaar in Eddie Jones se Engelse afrigtingspan sak.

Proudfoot se kontrak met SA Rugby het ná die Bokke se welslae by die Wêreldbekertoernooi in Japan verstryk. Rapport het by drie onafhanklike bronne verneem dat hy op pad is om hom by Jones, Engeland se hoofafrigter, aan te sluit.

Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, en Matt Proudfoot, voorspeler-afrigter, in 2018 in Wallis. Links is Eddie Jones. Foto’s: getty

Proudfoot se waarskynlike vertrek Engeland toe is ’n aanduiding dat hy nooit deel was van Rassie Erasmus se langtermyn-planne by die Bokke nie.

Erasmus, Saru se direkteur van rugby en hoofafrigter van die Bokke, gaan volgende jaar die tuig as Bok-breier neerlê. Dit is ’n uitgemaakte saak dat Jacques Nienaber, die Bokke se verdedigingsafrigter, by hom gaan oorvat. Erasmus sal egter as direkteur van rugby steeds die toutjies agter die skerms trek.

Proudfoot, die Bokke se voorspeler-afrigter, is groot lof toegeswaai nadat die Bok-pak die Engelse veral in die skrums verfomfaai het in die Wêreldbeker-eindstryd in Japan. Die Bok-agttal se spel was vir die duur van die toernooi hul groot troefkaart.

Eddie Jones.
Eddie Jones.

Proudfoot en SA rugby se vennootskap het in die verlede ook al ’n spoedbult getref. Nadat hy destyds deur Allister Coetzee in sy Springbok-afrigtingspan aangestel is om na die voorspelers om te sien en ná Coetzee se afdanking tydens sy termyn as Bok-afrigter het Proudfoot SA Rugby gedwing om hom kontraktueel in diens te hou. Hy was aanvanklik nie op Erasmus se wenslys toe Erasmus Coetzee in 2018 as Bok-afrigter vervang het nie.

Pieter de Villiers, wat ’n tyd lank as heeltydse voorspeler-spesialis saam met Erasmus by SA Rugby in diens was, was toe Erasmus se keuse vir die pos. Erasmus moes Proudfoot egter aan boord neem weens SA Rugby se geldknyp, wat verhinder het dat hulle hom kon uitkoop.

Met hom as deel van Erasmus se afrigtingspan het die Bokke egter in ’n formidabele, fisieke span ontwikkel met die agttal wat teen toplande soos Nieu-Seeland en Engeland voor kon oorheers.

Proudfoot se welslae het duidelik ’n groot indruk gemaak op die breier van Engeland. Die Bokke se vaste fasette was die afgelope sowat vier jaar bestendig goed onder die voormalige Skotse voorryman.

Die Engelse het in die WB-eindstryd in Jokohama minstens vyf strafskoppe in die skrums teen die Bokke afgestaan.

Die vertrek van die beseerde Kyle Sinckler, wat vroeg in die wedstryd deur Dan Cole vervang is, het die Engelse span ook erg geknou.

Ofskoon Erasmus vanjaar meer betrokke by die voorspelers was as verlede jaar en ’n speler soos Lood de Jager ’n groot bydrae tot die Bokke se lynstaansukses in Japan gelewer het, het Proudfoot ook waardevolle insette in dié afdeling gelewer.

Die aanduidings is dat Deon Davids die nuwe voorspeler-afrigter in die Bok-kamp sal word.

Suiwer op uitslae geoordeel, was Davids se termyn as hoof­afrigter van die Kings nie suksesvol nie, maar hy het wel daarin geslaag om die beste te maak van die beperkte hulpbronne tot sy beskikking. Hy is ook erg aan bande gelê deur die Kings se talle administratiewe en geldelike probleme.

Erasmus kan selfs later, as die behoefte onder Davids as voorspeler-afrigter ontstaan, ’n skrumkonsultant soos die Bulle se Daan Human of Pieter de Villiers in Proudfoot se afwesigheid betrek.

Dit is nog nie seker wie Proudfoot in Jones se afrigtingspan gaan vervang nie. Neal Hatley was Engeland se skrumafrigter in Japan, maar hy het hom sedertdien by Francois Louw se klubspan Bath aangesluit.

Die voormalige Engelse slot Steve Borthwick was Jones se voorspeler-afrigter in die Wêreldbeker, maar daar word berig dat hy hom by Jaco Taute en Hanro Liebenberg se Engelse klubspan Leicester Tigers sal aansluit sodra daar ’n geskikte plaasvervanger vir hom gevind word. Dit kan Proudfoot wees. Jones sal nie te lank met Proudfoot se aanstelling wil sloer nie omdat die Sesnasiesreeks om die draai is.

Proudfoot se waarskynlike aanstelling by die Engelse, Nienaber se bevordering en Davids se nuwe rol behoort die belangrikste skuiwe in Erasmus se Bok-afrigtingspan te wees.

Dit lyk ook of Erasmus-hulle daarin geslaag het om Felix Jones te behou.

Hy is ná Swys de Bruin se onverwagse bedanking net voor die begin van die Wêreldbekertoernooi as ’n verdedigingskonsultant vir die duur van rugby se skouspel aangestel. Hy het goeie werk in Japan verrig en die spelers het hom as ’n gewilde aanstelling beskou. Hy en Mzwandile Stick het ook goed saamgewerk.

Die gewese Ierse heelagter kan vorentoe onder meer die taak kry om met die oorsese Bokke te werk terwyl hy in Ierland aanbly.

  • Die Franse Rugbyfederasie (FFR) het gister aangekondig dat die Springbokke op 21 November in Parys ’n toets teen die Hane sal speel.

Dit is die eerste kragmeting op die Bokke se Jaareindtoer wat bevestig is, maar die Bokke sal glo ook teen Italië (7 November) en Ierland (14 November 14) speel.

Die Bokke speel in Julie teen Georgië en Skotland.

Meer oor:  Matt Proudfoot  |  Eddie Jones  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.