
Die Principality-stadion se dak is toe vir ’n sokkerwedstryd. Foto: Getty Images
Eddie Jones wil hê die dak van die Principality-stadion moet toe wees wanneer sy Engelse span Saterdag in ’n Wêreldbeker-opwarmingstoets teen Wallis speel – al word geen reën vir Cardiff voorspel nie.
Walesonline.co.uk berig dat Engeland se afrigter dié versoek gerig het omdat die Rose se eerste twee WB-wedstryde in Japan (teen Japan en Amerika) in stadions met toe dakke sal wees.
Hy wil dus hê sy span moet aan soortgelyke toestande blootgestel word as wat hulle in Japan kan verwag.
Of Wallis egter gaan instem, is ’n ander saak
want Jones het die tuisspan vroeër vanjaar gedwing om die dak vir die spanne se Sesnasies-kragmeting oop te hou.
Volgens die Sesnasies-reëls mag die dak net toegemaak word as albei spanne instem.
Wallis verkies gewoonlik dat die dak toe is om ’n vyandiger atmosfeer vir besoekende spanne te skep.
Daar moet nou maar gesien word of Wallis na Jones se versoek gaan luister.
Wallis se afrigter, Warren Gatland, was gefrustreerd omdat hulle nie in Februarie die dak kon toemaak nie.
“Dit het my gepla dat ons nie kon besluit in die Sesnasies-reeks of ons die dak van ons eie stadion kon toemaak of nie. Dis ironies dat dit ons stadion is, maar ons nie kan besluit wat ons daarmee wil doen nie.
“Ons behoort die besluit te kan neem.”
– Sportredaksie