
Eddie Jones, Engeland se hoofafrigter. Foto: Getty Images
Eddie Jones, Engeland se hoofafrigter, het Saterdag in Londen toegekyk hoe die Saracens-rugbyklub, vir wie van sy beste spelers speel, teen die minder geroemde Ealing Trailfinders verloor het.
Saracens is weens salariskerf-oortredings uit die Engelse Premierliga geboender en ding dié seisoen in die tweedeliga van Engelse rugby mee. Die Engelse agtsteman, Billy Vunipola, het Saracens Saterdag in hul nederlaag met 26-27 aangevoer.
Van Vunipola se Engelse spanmaats wat ook vir Saracens speel, soos Owen Farrell, Maro Itoje en Jamie George, was nie Saterdag in aksie nie. Vunipola het gespeel omdat Jones wil hê hy moet wedstrydfiks raak voor die Sesnasies-reeks, wat vir Engeland op 6 Februarie teen Skotland begin.
Dit was nie ’n goeie dag vir Vunipola nie, maar wel vir die gewese Southern Kings-slot, Bobby de Wee. Hy het onlangs ’n kontrak met Ealing onderteken en het Saterdag in die nr. 4-trui uitgedraf. ’n Gewese voorspeler van die Bulle, Abongile Nonkontwana, is ook op Ealing se boeke. – Sportredaksie