Dit het een omstrede duikslag geneem om die gesprek oor die moontlike gebruik van twee skeidsregters in rugbywedstryde weer te laat kop uitsteek.

Angus Gardner, die skeidsregter in die Bokke se toets teen Engeland, het onder heelwat kritiek deurgeloop oor sy besluit om nie vir Owen Farrell te straf nie, maar Eddie Jones glo die spoed en die intensiteit van die spel vereis deesdae dat jy ’n tweede blaser op die veld moet hê. Foto: Getty Images
Engeland se afrigter, Eddie Jones, het Dinsdag daarvoor voorbrand gemaak op ’n nuuskonferensie in Londen.
Dit kom nadat die kwessie van Owen Farrell se ongestrafte duikslag op André Esterhuizen in die naweek se toets tussen die Rose en die Springbokke op Twickenham ter sprake gekom het. Angus Gardner was die skeidsregter.
’n Strafskop aan die Bokke sou hulle in ’n posisie geplaas het om pale toe te korrel om die toets te wen. Hulle het egter met 11-12 verloor.
“Al die inligting wys daarop dat die spel se intensiteit hoër geraak het. Die wedstryd (op Twickenham) het 100 minute geduur, waarvan die bal vir 39 minute in spel was. Die intensiteit van die duikslae en kontak is nou hoër,” het Jones luidens ’n berig in independent.co.uk gesê.
“Ons verwag van een skeidsregter om te blaas soos toe ouens soos ek nog gespeel en basies maar net op die veld rondgedraf het. Ek dink die skeidsregters doen puik werk. Iewers in die toekoms, maar seker nie in my tyd nie, sal twee skeidsregters vir wedstryde dalk oorweeg moet word.”

Eddie Jones, afrigter van Engeland se rugbyspan. Foto: Getty Images
Oor Farrell se duikslag self wou Jones nie kommentaar lewer nie. Farrell het Esterhuizen met sy skouer getref sonder om sy arms om hom te vou.
Voormalige toetsspelers soos Brian O’Driscoll (Ierland), Lewis Moody (Engeland) en Jim Hamilton (Skotland) meen die duikslag was wettig.
Die voormalige Engelse toetsspeler Martin Bayfield meen egter Suid-Afrika is stief behandel en moes ’n strafskop gekry het.
Kurtley Beale, senter van Australië, het die voorval gebruik om die konsekwentheid in beslissings oor voorvalle te bevraagteken.
“Ek dink net jy het konsekwentheid nodig. ’n Paar jaar gelede sou dit ’n rooikaart, of ’n gele of ’n strafskop gewees het. ’n Mens soek net konsekwentheid. Dis hoe jy duidelikheid kry,” het Beale gesê.
Die Varsitybeker-reeks het in 2014 ’n suksesvolle proefneming met twee skeidsregters per wedstryd gedoen, maar dit later laat vaar.
Jones verwag ook nie dat Wêreldrugby vinnig daardie sprong gaan maak nie.
“Dit kan dalk eers oor 15 of 20 jaar, wanneer Bill Beaumont nie meer die voorsitter van Wêreldrugby is nie, gebeur!” het Jones grappenderwys gesê.
“In rugby draai die wiel stadig.”
– Sportredaksie