Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eddie se benoude spronge

Om jou in die ellende van Engeland se rugbyspan te verlustig, is altyd lekker. Hierdie keer is dit selfs méér so, want die Rose kom Junie Suid-Afrika toe vir ’n toetsreeks waarvoor die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sekerlik nou sy lippe aflek.

Engeland se breier, Eddie Jones, is ’n kat wat benoude spronge maak voor Saterdag se Sesnasies-krameting met Ierland op Twickenham.

Engeland se afrigter, Eddie Jones, by Vrydag se kapteinsoefensessie op Twickenham. Foto: Getty Images

Die Engelse het ná agtereenvolgende nederlae teen Skotland en Frankryk reeds hul kroon aan die Iere afgestaan.

Met enige geluk word die vernedering op Engeland se tuisveld met baie sout ingevryf om Jones-hulle se selfvertroue te tap voor die reeks teen die Bokke.

Om vir Marius van der Westhuizen, wat ’n assistent-skeidsregter sou gewees het, by ’n Engelse oefensessie te betrek, was Jones op sy opportunistiese beste.

Hoewel dit nie teen Wêreldrugby se reëls ingedruis het nie, het dit Van der Westhuizen sy aanstelling gekos weens die feit dat sy objektiwiteit in twyfel getrek was. Dit was swak oordeel deur Wêreldrugby om mee te begin daartoe in te stem asook deur Van der Westhuizen, maar hy het dit waarskynlik met die beste bedoelings gedoen.

Dan het Jones ook vandeesweek om verskoning gevra ná die openbaarmaking van ’n video waar hy verlede jaar by ’n toespraak na die Iere as “scummy” verwys en vir Wallis as ’n “sh*t place” beskryf het.

Daar was ook slegte beseringsnuus met die agtsteman Nathan Hughes en die flank Courtney Lawes wat albei deur ernstige kniebeserings platgetrek is en nie Suid-Afrika toe toer nie.

Met die Iere gaan dit klopdisselboom en hierdie kan straks die wedstryd wees waar hulle eienaarskap neem van die mantel as die tweede beste rugbyspan ter wêreld.

Behalwe daardie intrige, is die enigste vraag wie vanjaar die naaswenner gaan wees. Engeland spook dit uit met Wallis, Frankryk en Skotland.

Ander bepalings Saterdag is Italië teen Skotland in Rome, en Wallis teen Frankryk in Cardiff.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.