Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eddie se Engelse speel Iere dronk
Engeland se losskakel, George Ford, druk sy span se eerste drie, met sy direkte teenstander, Jonathan Sexton, wat net kan toekyk. Foto: Getty Images

Diegene wat die laaste tyd wyd en syd verkondig het dat Eddie Jones se dae as afrigter van Engeland se rugbyspan getel is, het seker Sondag in hul middagkoffie gestik toe die Rose Ierland taamlik maklik geklop het.

Engeland het ’n kragtige vertoning opgedis om die Iere met 24-12 op Twickenham in Londen in die twee spanne se kragmeting in die Sesnasies-reeks te verslaan.

Met die oorwinning het Jones-hulle boonop hul kanse lewend gehou om die reeks te wen – en in die proses die Iere hul eerste nederlaag vanjaar toegedien.

Die Rose het duidelik hul huiswerk gedoen en male sonder tal in die eerste helfte met skoppies die bal agter Ierland se agterlyn gekry. Slim skoppies, wat die Iere aan die slaap gevang en tot die Engelse se eerste twee drieë gelei het.

Die eerste was toe die Engelse skrumskakel, Ben Youngs, ’n rolskop verby die Iere se agterlyn geskop het. Die Iere, heeltemal onverhoeds betrap, het geskarrel om die bal in sy doelgebied onder beheer te bring, maar George Ford het die bal gedruk.

Engeland was egter veel meer as ’n skoppende span. Hy het Ierland fisiek getakel, soos die senter Manu Tuilagi en die flank Courtney Lawes wat die tuisspan telkens oor die voordeellyn geneem het.

Vir Engeland het dit goed gewerk om faset ná faset af te dwing en dan die bal wyd te gooi. Nie dat Ierland veel balbesit gehad het of veral in die eerste helfte regtig gelyk het of hy drieë kan druk nie. Spanne wat met die rug teen die muur is, maak dikwels foute wat hulle na beginners laat lyk.

Soos die Ierse losskakel, Jonathan Sexton, se strafdoelpoging in die eerste helfte, wat hy gewoonlik toe oë sal oorsit en die skrumskakel, Conor Murray, wat by geleentheid nie die kantlyn kon vind nie. Murray se poging het die bal in die Engelse se hande laat beland en hulle nog ’n kans gegee om aan te val.

Teen rustyd was Engeland gerieflik met 17-0 voor en was die verwagting dat daar in die Ierse kleedkamer planne gesmee sal word oor hoe om balbesit te bekom.

Ierland het in die tweede helfte uitgekom en aanvanklik ’n paar belowende bewegings in die Rose se halfgebied uitgevoer. Maar die Engelse het gewys dat hulle ook kan verdedig wanneer dit van hulle vereis word, met iemand soos die slot Maro Itoje wat nie bang was om sy lyf op die spel te plaas nie.

Itoje en die agtsteman, Tom Curry, was boonop kookwater by die afbreekpunte – met die Iere wat ook daar tweede gekom het.

Engeland se kaptein, Owen Farrell, is al in die verlede oor sy somtyds onsportiewe spel gekritiseer. Hy het by geleentheid soos ’n neet aan die Ierse agtsteman, CJ Stander, se been by ’n losgemaal vasgeklou. Hoe meer Stander probeer het om van hom ontslae te raak, hoe meer het die Engelsman geklou.

Eddie Jones, afrigter van Engeland, voor die aanvang van Sondag se kragmeting. Foto: Getty Images

Farrell kan homself gelukkig ag dat hy nie na die koelkas gestuur is nie.

As daar een ding is wat Jones suur sal maak, is dit dat sy span nie ’n vierde drie vir ’n bonuspunt kon druk nie.

* Frankryk is die enigste onoorwonne span ná afloop van die derde ronde van die Sesnasies-reeks. Die Hane het Saterdagaand ’n puik oorwinning met 27-23 in Cardiff behaal. In die naweek se ander kragmeting, het Skotland met 17-0 oor Italië in Rome geseëvier.

*Puntemakers op Twickenham: Engeland 24 (17): Drieë: George Ford, Elliot Daly, Luke Cowan-Dickie. Doelskoppe: Owen Farrell (3). Strafdoel: Farrell.

Ierland 12 (0): Drieë: Robbie Henshaw, Andrew Porter. Doelskop: John Cooney.

Meer oor:  Ierland  |  Twickenham  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Sesnasies  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.