Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eddie sing halleluja oor blitsige May
Jonny May glip Saterdag verby ’n Ierse verdediger om sy tweede drie in Engeland se sege op Twickenham te gaan druk.Foto: Reuters

Die Engelse rugbyspan se afrigter, Eddie Jones, het Saterdag omtrent die heuningkwas uitgehaal vir sy blitsvleuel Jonny May.

May het twee drieë – waaronder ’n sensasionele een wat 90 meter van die doellyn begin het – gedruk in Engeland se oorwinning met 18-7 oor Ierland in die Nasiesbeker-toernooi.

Die 30-jarige Engelsman het daarmee opgeskuif tot tweede op Engeland se lys van die gulsigste driedrukkers ooit. Hy het nou 31 vyfpunters agter sy naam, wat hom gelyk plaas met Ben Cohen en Will Greenwood. Rory Underwood se rekord van 49 is wel nog ver op sy horison.

Hy is beslis ’n gehaltespeler – veral as jy in ag neem dat hy 30 jaar oud is en steeds elke aspek van sy spel verbeter.
Eddie Jones

“Hy is beslis ’n gehaltespeler – veral as jy in ag neem dat hy 30 jaar oud is en steeds elke aspek van sy spel verbeter,” het Jones oor May gesê.

“Hy werk so hard op die oefenveld en is obsessief daaroor om te verbeter. Hy is ’n wonderlike rolmodel vir die spelers in alle spanne.”

May het voor Saterdag in Februarie laas ’n toetsdrie gedruk, in Engeland se Sesnasies-wedstryd teen Frankryk, maar teen Ierland reeds in die 17de minuut daardie droogte beëindig nadat hy hoog in die hoekie gespring het om ’n skop van Owen Farrell te bemeester.

Kort daarna het hy ’n tweede drie gaan druk – een wat nie net sy asemrowende vaart nie, maar ook sy rugby-intelligensie onderstreep het.

Die Ierse haker het die bal te diep gegooi by ’n lynstaan in Engeland se 22, en die Engelse agterspelers het dadelik daarop toegesak. Die bal is deur die hande tot by May, wat tien meter van sy eie doellyn was. Van daar het hy verby Chris Farrell geglip, die bal twee keer vorentoe geskop en dit toe agter die doellyn toegeval.

Eddie Jones

Jones het laat deurskemer dat hy nie altyd beïndruk was met May nie. Die vleuel was beslis ver van die voltooide produk toe hy sy internasionale debuut in 2013 gemaak het, en het eers in sy sewende wedstryd (in 2014 teen Nieu-Seeland) sy eerste drie gedruk.

“Ek onthou ek het hom dopgehou by 2015 se Wêreldbeker-toernooi en in een stadium het hy so geretireer ek het gedink hy gaan in ry K opeindig,” het Jones Saterdag gespot. “Maar nou is hy ’n uitstekende afronder.”

May het Saterdag sy bydrae as gering probeer afskiet, op ’n dag wat Engeland se verdedigende spel ewe veel oë as sy vinnige voete laat rek het.

“Ek is gek daaroor om drieë te druk, maar hulle kom en gaan. Ek moet steeds elke week seker maak ek verdedig goed en dat my basiese vaardighede briljant is. Dis waaraan ek werk,” het hy gesê.

“My eerste drie was terwyl ons voordeel gehad het en ’n skoot in die donker. Ons het dieselfde probeer teen Georgië en ek was vies vir myself ná dit nie gewerk het nie. Dié week het ek dit geoefen en het dit uitgewerk.

Ons het dieselfde probeer teen Georgië en ek was vies vir myself ná dit nie gewerk het nie. Dié week het ek dit geoefen en het dit uitgewerk.
Jonny May

“Die ander een was net van omgekeerde besit en alles het regtig baie vinnig gebeur. Dit was net instink – ek het nie genoeg tyd gehad om daaroor te dink nie, want die bal het vinnig by my gekom.”

Wat sy kans om Underwood op die driedrukkers-lys in te katrol aanbetref, het May gesê: “Jy begin nie rugby speel vir daardie soort goed nie, dis die dinge waarop jy reflekteer wanneer jou loopbaan verby is. So ek gaan net my kop laag hou en aanhou werk. Ons sal sien waar dit my uitbring.” – Reuters

Meer oor:  Jonny May  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Ierland  |  Vleuel  |  Rose  |  Nasiesbeker  |  Afrigter  |  Rugby  |  Drieë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.