Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eddie trotse afrigter ná glorie

In ’n vreemde jaar, onder onbekende omstandighede weens die Covid-19-pandemie, is Eddie Jones ’n ingenome afrigter nadat Engeland se rugbyspan die naweek die Sesnasiesreeks beklink het.

Owen Farrell van Engeland Saterdag in die wedstryd teen Italië in Rome. Foto: Getty Images

Engeland het Italië Saterdag met 34-5 in Rome in hul laaste wedstryd van die reeks geklop, en in die proses ’n bonuspunt gekry. Die Rose moes toe nog wag vir die uitslag van die kragmeting tussen Frankryk en Ierland om te weet of hulle die reeks wen.

Albei dié spanne was nog in die wedloop om die titel te wen, met die Iere wat die maklikste pad gehad het – hulle moes met sewe of meer punte wen.

Maar die Hane het met 35-27 in Saint-Denis koning gekraai, wat glorie vir Jones-hulle verseker het.

Dit het beteken dat die Engelse die eerste keer sedert 2017 weer die gesogte trofee staanplek op Twickenham gegee het.

Hulle het uitstekend gereageer op die veranderende situasies van die afgelope paar weke en op ons doelwit gefokus gebly om die Sesnasiesreeks te wen.
Eddie Jones

“Ek is baie trots op die spelers en personeel. Hulle het uitstekend gereageer op die veranderende situasies van die afgelope paar weke en op ons doelwit gefokus gebly om die Sesnasiesreeks te wen,” sê Jones, volgens ’n verklaring van die Engelse Rugbyunie.

“Ons sal ’n paar dae rus en dan weer later volgende week saamkom en al ons aandag fokus op ons voorbereiding vir die Nasiesbeker (wat op 13 November begin). Dit is nog ’n baie belangrike toernooi vir ons en ek sal dieselfde vlak van toewyding verwag, soos ons te werk gaan om op ons beste te vertoon.

“Ek wil ook graag al ons ondersteuners bedank. Dit is snaaks om nie toeskouers by die stadion te hê nie, en ons weet dit is ’n moeilike tyd vir die land. Maar ons was regdeur ons veldtog bewus van die ondersteuning en dit het ’n verskil gemaak. Hopelik kan ons voortgaan om in die volgende paar weke goeie oomblikke vir ons ondersteuners te skep.”

Dit was inderdaad ’n jaar van aanskakel, afskakel en toe wéér aanskakel sedert die eerste wedstryd in vanjaar se Sesnasiesreeks op 1 Februarie beslis is – met aksie wat in Maart tydelik opgeskort is.

Eddie Jones, afrigter van Engeland. Foto: Getty Images

Die Engelse se enigste nederlaag was in Februarie toe hulle teen die Franse, wat tweede geëindig het, vasgeval het.

Volgens Owen Farrell, kaptein van Engeland, was hy en sy manskappe gefokus en het geweet wat van hulle verwag word.

“Vir ons as groep is dit ’n uitsonderlike prestasie om die Sesnasies te wen in ’n vreemde jaar en onder sulke omstandighede. Ons het regtig die afgelope paar weke baie hard gewerk tydens oefeninge, om voorbereid te wees vir die wedstryd teen Italië.

“Ons het geweet wat van ons verwag word en het daarop gefokus gebly en die gewensde resultaat verkry,” sê Farrell.

“Hierdie is ’n ongelooflike groep spelers, ons is vas daarvan oortuig dat ons net beter en beter kan word en meer vir Engeland kan bereik. Ons rig ons visier nou op die Nasiesbeker, ons wil konstant suksesvol wees en ons het hard daaraan gewerk om in elke wedstryd te verbeter.”

• Die grootste verloorder in vanjaar se Sesnasies was Wallis. Die Rooi Drake was in 2019 die kampioen en het die Grand Slam behaal – maar vanjaar het hulle min vuur geblaas. Hulle kon slegs een van hul vyf wedstryde wen en het tweede laaste geëindig met Italië, wat amper oudergewoonte die houtlepel huis toe geneem het.

Skotland het Wallis Saterdag met 14-11 in Llanelli geklop. – Sportredaksie


Meer oor:  Eddie  |  Owen Farrell  |  Engeland  |  Jones  |  Sesnasies  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.