Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eddie wil Joe tot nuwe insigte bring

Engeland se nasionale rugby-afrigter, Eddie Jones, hoop hy kan die omstrede stut Joe Marler oortuig om rugby nie die rug toe te keer nie.

Marler is in Engeland se laaste Sesnasies-wedstryd afgeneem waar hy die Walliese kaptein, Alun Wyn Jones, se geslagsdele gryp. Die Engelse Rugbyunie (RFU) het hom vir 10 weke geskors daarvoor, en Marler is uit alle oorde uitgeskel op sosiale media.

Joe Marler (links) storm vorentoe in verlede maand se Sesnasies-wedstryd tussen Engeland en Wallis. Foto: Getty Images

Sedertdien was daar berigte dat die Engelsman oorweeg om sy rugbystewels (weer weg te bêre). Hy het in Junie 2018, ná die Britte se toer in Suid-Afrika, uit internasionale rugby getree, maar is ’n jaar later deur Jones oorreed om terug te keer en sy land by die Wêreldbeker-toernooi in Japan te verteenwoordig.

Hy het die Rose eindelik gehelp tot die eindstryd, waar hulle teen die Springbokke verslaan is.

Een van die sterre van daardie eindstryd was die Springbok-stut Beast Mtawarira – en dis juis hy wat Jones as voorbeeld gebruik wanneer hy praat oor waarom hy Marler in die sport wil hou.

“Kyk net na die Beast, wat waarskynlik op sy beste was by die Wêreldbeker-toernooi – op die ouderdom van 34,” het Jones volgens Rugbypass gesê.

“Joe is steeds relatief jonk (op 29) en het nog baie rugby voor hom. Maar jy moet natuurlik die begeerte hê om aan te hou speel en net Joe weet (of hy dit nog het).

Marler-skorsings

Lys van skorsings sedert 2016:

Maart 2016: Twee wedstryde en ’n boete van £20,000 (sowat R470 000) ná hy die Walliese stut Samson Lee ’n “Gyspy Boy” noem

April 2016: Skorsing van twee weke ná hy Arnaud Héguy teen die kop skop.

Junie 2016: Onttrek aan die Engelse toerspan ná Australië ná hy die oud-Wallaby-afrigter Bob Dwyer op Twitter ’n “wank*r” noem.

September 2017: Ernstige waarskuwing (op sy dissiplinêre rekord vir vyf jaar aangeteken) ná hy en sy Engelse spanmaat James Haskell in ’n klubwedstryd baklei.

Oktober 2017: Drie weké na hy die Walliese slot Will Rowlands met die elmboog bydam.

Januarie 2018: Twee Sesnasies-wedstryde ná hy TJ Ioane in ’n klubwedstryd skouerloop.

Maart 2020: Ses weke ná hy die Walliese kaptein, Alun Wyn Jones, tussen die bene gryp. – walesonline.com

“Aan die einde van die dag is hy ’n wonderlike speler, maar wat ons wil hê is spelers wat vir Engeland wíl speel. Hy moet daaroor besluit.

“Hy is ’n man wat baie diepte het as ’n karakter. Hy het natuurlik ’n paar foute gemaak, maar hy is ’n fantastiese spanman, ’n goeie rugbyspeler en ’n goeie mens. Ek sien uit daarna om met hom te gesels (oor sy toekoms) op ’n geleë tyd.

“Ons is so nou en dan in kontak via teksboodskappe. Ons sou mekaar oor ’n paar weke in Horsham gesien het, maar weens die reëls van sosiale distansiëring kan ons nou nie dit doen nie. Ek en Joe sal wel egter een of ander tyd van aangesig tot aangesig praat.”

Engeland is veronderstel om oor ’n paar maande na Japan te toer, maar die Covid-19-pandemie kan dalk ’n stokkie voor dit steek.

“Ons sou die sterkste beskikbare span gekies het,” sê Jones oor daardie toer.

“Daar was sekere riglyne in plek oor wie verkiesbaar was en wie nie. As die toer voortgaan, sal ons weer daarna kyk. Japan is negende op die wêreldranglys en het Ierland en Skotland oor die afgelope drie jaar geklop. Ons moet ’n sterk span neem.” – Sportredaksie

Meer oor:  Skorsing  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Joe Marler  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.