Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Een, twee, drie . . . vier vir WP-haker in debuut

Selfs al word JJ Kotze 100 jaar oud, sal hy nooit die dag vergeet toe hy – as ’n haker van alle dinge – ’n vierkuns aan drieë in sy heel eerste Curriebekerwedstryd behaal het nie.

Die WP-haker, JJ Kotze, duik oor vir die tweede van sy vier drieë gister op Loftus. Foto: Christiaan Kotze, Gallo Images

Want kyk, dít gebeur nie aldag nie. Dalk as jy ’n vleuel is, maar nie as jy jou brood en botter in die middel van ’n skrum verdien nie.

Hy sal veral onthou dat hy sy prestasie in ’n sege vir die Westelike Provinsie oor hul aartsvyande, die Bulle, op die Ligbloues se heiligdom Loftus Versfeld behaal het. (Niemand hoef te weet die Bulle se A-span was in Italië nie.)

Kotze en sy medevoorspelers het die jong kalwers van die Bulle behoorlik laat kreun. Die WP skop dus hul Curriebekerseisoen met ’n oorwinning van 48-24 af.

Dit was veral met hul rolmale en verwoestende skrums wat die WP die Bulle opgekeil het. Die besoekers se voorspelers het hul agterspelers ’n grondslag gegee om te hardloop soos hulle wil. En daar was met tye sprankelende hardlooprugby wat die Kaapse ondersteuners met groot glimlagte sou laat.

John Dobson, afrigter van die Streeptruie, kan ook heeltemal tevrede wees met sy span se poging op die verdediging.

“Daar is sekere aspekte waarmee ons tevrede is, soos ons vaste fasette, die besit wat ons gehad het en die ywer op die aanval,” het Dobson gesê.

“Ons is egter ontevrede met die twee drieë wat ons in die laaste vyf minute afgestaan het ná daai geelkaart.

“Die eindtelling was teleurstellend. In die eerste helfte was ons ook nie te waffers op die verdediging nie. Ons het tien duikslae gemaak en ’n paar verbrou.

“Ek dink ons is ’n bietjie verlei deur ons oorheersing in die vaste fasette en dit het daartoe gelei dat ons riskante rugby gespeel het, terwyl ons dalk nie moes nie.”

Die Bulle se jonges het heldhaftig vertoon, maar met 44 eerstekeuse-spelers wat nie in dié Curriebekerstryd gespeel het nie, sou dit altyd ’n opdraande stryd wees. Veral teen ’n WP-span wat baie meer senior spelers gehad het as hulle.

’n Paar individue, soos Richard Kriel op heelagter en die vleuel Kefentse Mahlo, het goed vertoon. Mahlo het ’n paar keer lekker met die bal onder die arm gehardloop. Die pluspunt vir die jong Bulle is dat hulle met die eindfluitjie ’n vierde drie gedruk het vir ’n bonuspunt.

Die WP speel Woensdag op Ellispark teen die Leeus.

“Alles gaan beter moet wees. Die Leeus kry ’n paar spelers terug en hulle sal wraak soek ná wat Vrydagaand met hulle teen die Pumas gebeur het.”

Dobson was vol lof vir sy vyf debutante, veral vir Kotze se vier drieë en die Leeus-leenspeler Hacjivah Dayimani se impak van die plaasvervangersbank af.

  • Blou Bulle (24) Drieë:  Kefentse Mahlo, Richard Kriel, Dewald Donald, Jaco Labuschagne. Doelskoppe: Jandre Burger (2). 
  • WP (48) Drieë: JJ Kotze (4), Sihle Njezula, Evan Roos, Dan du Plessis. Doelskoppe: Abner van Reenen (4), Tim Swiel. Strafdoel: Swiel.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Wp  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.