Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Einde van die pad vir dié Cheetahs

Die moontlikheid bestaan dat Vrydag se Pro14-wedstryd tussen die Cheetahs en Munster, vir minstens agt spelers die laaste keer kan wees dat hulle in die Toyota-stadion speel.

Die Cheetahs gaan die verlies van Clayton Blommetjies waarskynlik die hardste voel. Foto: Getty Images
Uzair Cassiem wat ’n Springbok by die Cheetahs geword het, sal hoop dat die Springbok-afrigter, Rasssie Erasmus, nie van hom sal vergeet nie. Foto: Gallo Images
Die afwesigheid van Reniel Hugo in veral die lynstane, gaan ’n gevoelige slag wees vir die Cheetahs wanneer hy waai. Foto: Getty Images

Hulle het almal groener weivelde gaan soek en hul laaste amptelike wedstryd vir die Cheetahs in Suid-Afrika is op 28 April teen die Southern Kings in Port Elizabeth.

Agt, met die moontlikheid van nóg twee spelers, kan die laaste keer voor hul tuisskare uitdraf, sou die Cheetahs nie vir ’n tuis-uitspeelstryd kwalifiseer nie.

Voor in die ry staan natuurlik die kaptein en Springbok-senter, Francois Venter. Hy speel ná afloop van die Cheetahs se eerste seisoen in die Pro14-reeks sy rugby vir die Engelse klubspan Worcester Warriors.

Rory Duncan, afrigter, is ook op pad na Worcester en dit is byna ’n uitgemaakte saak dat die Namibiese haker Torsten van Jaarsveld hom ook by hulle kan aansluit.

Vir Venter, wat as die hartklop van die Cheetah-span beskou word, is dit nie maklik om oor wat moontlik sy laaste wedstryd in sy geboortestad kan wees, te praat nie.

“Dit is iets waaraan ek al gedink het, maar dit verander niks vir Vrydag se wedstryd nie. Daar is maar emosie betrokke, want Vrystaat was nog altyd goed vir my en as ek terugkyk, kan ek nie glo dat die tyd so vinnig verby gevlieg het nie,” sê Venter.

Duncan, wat by ’n vorige geleentheid nie daaroor wou praat nie, het wel sy kant ook gestel.

“Dit kan wel die laaste keer wees dat ek as afrigter hier aantree, maar vir nou. Wie weet wat die toekoms inhou. Vir ’n aantal spelers gaan dit baie emosioneel wees, maar dit is nié ons fokus nie. Ons fokus nou is die plan wat ons het vir Munster. Wat die emosie betref, dis maar persoonlik en dit gebeur gewoonlik op die dag,” sê Duncan.

Spelers wat saam met Venter en Duncan Bloemfontein vaarwel roep, sluit in Carl Wegner (slot, Verblitz, Japan), Uzair Cassiem (agtsteman, Scarlets, Wallis), Clayton Blommetjies (heelagter, Scarlets, Wallis), Tom Botha (stut, Ospreys, Wallis), Niel Marais (losskakel, Yamaha Jubilo, Japan) en Reniel Hugo (slot, Verblitz, Japan).

Die spelers oor wie daar nog nie sekerheid is nie, is die losskakel Fred Zeilinga, wat met die Japanse klubspan Canon Eagles verbind word. Die klub word deur die voormalige Springbok-afrigter Allister Coetzee gebrei.

Die losvoorspeler Tier Schoeman blyk ook in die wildernis te wees, aangesien sy kontrak binnekort verstryk. Daar is vertroulik verneem dat hy nie by die franchise gaan aanbly nie.

Spelers wat ook ná afloop van die Pro14-reeks koers kies, maar in Januarie terug op hul pos vir die Cheetahs sal wees, is die losvoorspeler Henco Venter en die veelsydige agterspeler Clinton Swart.

Venter kies ook koers Japan toe waar hy vir die Brave Lupus sal speel, terwyl Swart ook by White se Verblitz aansluit om dié span se Suid-Afrikaanse geur nog sterker te maak.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Reniel Hugo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.