Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Einde van Wêreldbeker-gekonkel?

Het ons die laaste van ’n groot gekonkel gesien met die aanwys van gasheerlande vir rugby se Wêreldbeker-toernooi?

Die Webb Ellis-trofee, waarvoor daar elke vier jaar gespeel word. Foto: Wêreldrugby

Dis moontlik die geval nadat Wêreldrugby die prosedures bekend gemaak het waarvolgens daar op die gasheerlande vir die volgende twee mans- (2027 en 2031) en vroue-toernooie (2025 en 2029) besluit gaan word.

’n Deursigtiger proses word in die vooruitsig gestel, terwyl veral die Europese lande nie mekaar se stemme sal kan werf deur gesamentlik te bie nie.

Die proses word as volg uiteengesit:

• ’n Risikoprofiel van elke bod sal deur Rugby World Cup se direksie en onafhanklike kenners opgestel word. Die lidlande sal dít oorweeg voordat hulle hul stemme uitbring. Daar word dus weggedoen met die praktyk waar Wêreldrugby sy verkose kandidaat aanwys alvorens stemme uitgebring word.

• ’n Land wat op sy eie bie, mag nie stem vir wie die gasheerland moet wees nie. Dit is tans ook die geval.

• Indien daar ’n geval is waar ’n land op sy eie bie teen lande wat gesamentlik ’n bod indien, sal die proses as volg werk: Almal mag stem, maar die stemme van die lande wat gesamentlik bie, sal nie swaarder weeg as die maksimum van drie stemme waarop ’n enkele land geregtig is nie.

Lidlande kan dus nie mekaar se stemme werf deur middel van ’n gesamentlike bod nie.

• Die stemproses sal elektronies plaasvind en die uitslae daarvan sal openbaar gemaak word.

Almal sal dus kan sien wie vir wie gestem het en sodoende sal die praktyk waar lande aan mekaar beloftes maak, maar dan hul stemme elders uitbring, hopelik uitgeskakel word.

Suid-Afrika is in 2016, ten spyte van Wêreldrugby se aanbeveling dat hy die gasheerland vir 2023 behoort te wees, getroef toe dit by die stemmery gekom het.

Frankryk, wat die toernooi só onlangs as 2007 aangebied het, is as gasheer aangewys. Suid-Afrika het die toernooi laas in 1995 aangebied en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het nog nie aangedui of hy weer ’n bod gaan indien nie.

Volgens Wêreldrugby verteenwoordig die nuwe proses die “beste praktyk” wanneer dit by die kies van gasheerlande kom.

Die formele proses om lidlande aan te wys, begin in Februarie aanstaande jaar.

Sir Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, sê hy het dit ten doel gestel om “korporatiewe bestuur te verbeter en deursigtigheid te bevorder” wanneer dit by die besluitnemingsproses kom.

“Rugby World Cup is die spilpunt van daardie strategie. As ons vlagskip skep dit vir ons die meeste inkomste,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.