Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Masotti: ‘Ek gaan nie vir ewig wag, WP’

Die WP Rugbyunie se veldtog om ontslae te raak van André van der Veen, een van sy onafhanklike direkteure, kan die beoogde belegging van R100 miljoen van ’n groep Amerikaanse sakemanne saboteer.

Marco Masotti
Marco Masotti

Marco Masotti, die oud-Suid-Afrikaner wat saam met ’n groep Amerikaanse sakemanne ’n aanbod aan die WP gemaak het vir ’n belang van 51% in die unie, sê dat Van der Veen deel is van sy planne as sy aanbod sou slaag.

Dit blyk egter dat Zelt Marais, president van WP, die brieke begin aandraai het omdat hy besorg is oor wie die beheer oor rugbysake sal hê.

“Ek sit in New York en wil beslis vir André op die grond hê. Hy is deur en deur ’n sakepersoon met ’n liefde vir rugby. Dit sal absoluut ’n verskil maak,” het Masotti aan Rapport gesê.

Mnr. Van der Veen is vir ’n bepaalde termyn van ’n jaar aangestel om ’n spesifieke opdrag uit te voer.

Rapport kan bevestig dat die sakevleuel se direksie, onder die leiding van Marais, Donderdag weer vergader het en ’n besluit aanvaar het om die direksie te transformeer. ’n Voorstel om die verandering van die onafhanklike direkteure tersyde te stel, is verwerp.

Van der Veen, bekende sakeman en gewese uitvoerende hoof van eMedia Holdings, wat eTV en eNCA besit, is veral in die spervuur omdat hy telkens met Marais se groep gebots het, en tans nie inmeng met die span nie.

Buiten vir Van der Veen, wil Marais en sy vertrouelinge ook vir Raymond van Niekerk, oud-bemarkingshoof van Investec, en die voorsitter van die sakevleuel se raad, dr. Johan van der Merwe, vervang.

André van der Veen

Marais het gister aan Rapport gesê Van der Veen se termyn loop ten einde. “Mnr. Van der Veen is vir ’n bepaalde termyn van ’n jaar aangestel om ’n spesifieke opdrag uit te voer.”

Masotti het aan Rapport gesê dat hy nie “vir ewig” sal rondsit en wag op ’n antwoord nie.

Marais is volgens Rapport se inligting gekant daarteen om beheer van die franchise aan die belegger oor te gee, al wil Masotti se groep meer as R100 miljoen in die WP belê. Masotti het bevestig dat Marais beheer van die “rugbysake” wil behou.

“Waarna hy verwys het, was rugbysake, wat ook verwys na die kies van die afrigter. Wat ek vir hom gesê het, is dat rugby-aangeleenthede ’n integrale deel van die onderneming is.

Ek kan nie vir altyd wag nie en ek het ’n baie besige program.

“In die NBA is dit ’n reël van die liga; jy kan net ’n goewerneur in beheer hê. Een goewerneur, want jy moet vinnig en in die belang van die onderneming en die franchise besluite neem. Wat ons wil doen, is om die unie te laat voel dat hulle ’n regte vennoot hierin is, deur sitplekke in die stadion te vul en na die talentvoerband te kyk. ’n Mens moenie bekommerd wees oor of bang wees vir beheer nie. Hierdie soort ondernemings is nie so ingewikkeld nie, laat ons dit eenvoudig hou.

“Ek kan nie vir altyd wag nie en ek het ’n baie besige program. Al waarvoor ek regtig gevra het, in ’n vroeë stadium, is vir ’n eksklusiwiteitsooreenkoms – gee my 45 dae sodat ek die nodige omsigtigheidsondersoeke kan doen, indringend ondersoek instel, soos enige koper sou doen.

“Ek het in twee bladsye uiteengesit wat die basiese ekonomiese transaksie is, so ons is nog in daardie vroeë stadium,” het Masotti gesê.

Intussen verneem Rapport dat Marais reeds besig is om vir ’n alternatiewe belegger te soek. Twee bronne het aan Rapport gesê Marais “bel rond” om te hoor of daar nie ’n ander belegger gevind kan word nie.

Een van sy oproepe was na Roc Nation – die maatskappy van sanger Jay-Z wat Siya Kolisi se sake hanteer. ’n Bron by Roc Na­tion het bevestig hulle het “geen belangstelling om te belê nie”.

Marais het aan Rapport gesê die samesprekinge is vertroulik, en dit sal “ ’n oortreding van die Maatskappywet wees om sake bekend te maak wat nog nie deur die verskillende regstrukture goedgekeur is nie.

“Die aandeelhouer het vir die potensiële Amerikaanse belegger ’n tydperk vir eksklusiewe onderhandeling toegestaan.

“Ongelukkig het die potensiële belegger nie by die voorwaardes van die vertroulikheid van die ooreenkoms gehou nie.

“Die aandeelhouer se optrede was eties en bo verdenking. En ondanks die oortreding, is hy steeds bereid om met die potensiële belegger te onderhandel,” het Marais gesê.

Rapport verneem die WP se hoofborg, DHL, het die afgelope week ’n brief gestuur om die unie aan te moedig om ernstig oor die Masotti-belegging te be­sin, terwyl daar soortgelyke aanmoedigings uit SA Rugby-kringe was.

Die WP Rugbyunie, as 100%- aandeelhouer, het vanjaar R50 miljoen in die maatskappy ingeploeg om dit volhoubaar te maak te midde van die Covid-19-pandemie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.