Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Ek het my respek verdien,’ sê Ashwin

SuperSport het Saterdagaand bevestig die TV-kanalegroep sal ondersoek instel na die voorval waartydens Ashwin Willemse op die lug uit sy ateljee gestap het.

Ashwin Willemse in sy speeldae vir die Springbokke. Foto: Argief

Die uitsaaier was egter nie in ’n posisie om lig te werp op die omstandighede wat tot Willemse se optrede gelei het nie, maar het daarop gewys dat hulle die voorval as uiters ernstig beskou en dat hulle 'n volle ondersoek sal doen. Die ondersoek sal onderhoude met alle "relevante individue" insluit. 

Willemse, wat as vleuel vier drieë in 19 toetse vir die Springbokke gaan druk het, het tydens ’n regstreekse uitsending uit ’n SuperSport-ateljee ná die Leeus die Brumbies met 42-24 geklop het, gekla oor die “neerbuigende” houding van sy medeaanbieders, sy mikrofoon afgehaal en uitgestap.

Willemse, wat die Leeus ook verteenwoordig het, het na sy medeaanbieders, Nick Mallett en Naas Botha, verwys as spelers wat in die gesegregeerde apartheidsera gespeel het en gesê hulle is “neerhalend”.

Hy het ook daarop gewys dat hy hard moes werk om die “kwota-etiket” as speler af te skud.

“Dis belangrik vir my . . . Ek het hierdie spel vir lank gespeel en ek was gereeld as ’n kwotaspeler bestempel.

Ek het hard gewerk om my eie respek te verdien,” het Willemse gesê.

Dit wil egter voorkom asof iets agter die skerms gebeur het wat Willemse warm onder die kraag gemaak het.

“Ek gaan nie toelaat dat twee individue wat in die apartheids- en gesegregeerde era gespeel het neerhalend teenoor my praat nie,” sê Willemse met verwysing na Mallett en Botha gesê.

Daar word verstaan dat Willemse soms ontevrede is met die kort spreekbeurte wat hy kry en dat Botha en Mallett hom gedurig in die rede val.

Dit wil voorkom asof dit is wat Saterdagaand gebeur het. Net voor Willemse uit die ateljee geloop het, het Botha op ligsinnige wyse aan hom gesê: “Ek het al die tyd voor die wedstryd opgeneem, nou kan jy die tyd gebruik.”

Hierna het Botha, Mallett en Motshidisi Mohono, die hoofaanbieder, gelag waarna Willemse gesê het dis nie “nodig om neerhalend te wees nie”.

Met Willemse se volgende spreekbeurt het hy uitgeloop.

Willemse en Mallett het al voorheen meningsverskille gedurende regstreekse uitsendings gehad.

Willemse het Mallett, voormalige Springbokspeler en afrigter, en Botha, voormalige Springboklosskakel, daarvan beskuldig dat hulle hom ondermyn.

Clinton van der Berg, SuperSport se woordvoerder, het Saterdagaand by navraag bevestig hulle dra kennis van die voorval.

“SuperSport is bewus van die voorval en ons gaan ondersoek instel daarna.”

Nie Willemse, Mallett of Botha wou Saterdagaand kommentaar lewer nie.

Die voorval het hewige kritiek op sosiale media ontlok, met sommiges wat Willemse ondersteun en ander wat meen hy het onprofessioneel opgetree.

Meer oor:  Ashwin Willemse  |  Supersport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.