Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Ek het net my taak verrig,’ sê S’bu ná drie

Dit is bemark as die Springbokke se Wêreldbeker-afskeidstoets en die plan was dat dit ’n swierige geleentheid op Loftus Versfeld sou wees.

Hier diep in die tweede helfte het byna 30 000 Bok-ondersteuners egter benoud gewag om te verneem of Argentinië teen die verwagtinge in dié opskop kom bederf het.

Die Engelse blaser Luke Pearce het uiteindelik in oorleg met sy TV-skeidsregter beslis die besoekers het obstruksie gepleeg op pad doellyn toe vir die “wendrie”.

Nkosi het ’n laaste Poema wat hy moet klop. Foto: Gallo Images

Dit was ’n tydige meevaller, want dit was een van daardie 50/50-beslissings wat skeidsregters, selfs op dié vlak, gereeld verkeerd kry.

Die verligting was nietemin groot en die Bokke is minute later met ’n eina-oorwinning van 24-18 gegroet.

Was die uiteinde nie so voorspoedig vir die tuisspan nie, sou die Bok-regtervleuel, S’bu Nkosi, beslis nie daarvoor verkwalik kon word nie.

Hy het aan weerskante van rustyd gaan afrond, waarvan sy tweede in die tweede helfte die Loftus-skare op hul voete gehad het.

Nkosi het drie Poemas met ’n blitsige aftrap en ’n kraglopie geklop en is neus eerste oor die doellyn.

Hy het sekerlik ’n plek in Suid-Afrika se WB-groep verdien met dié giftigheid op die aanval?

Rassie Erasmus, die Springbokke se hoofafrigter, het op die span se mediakonferensie bevestig dié jong blits van die Haaie sal een van die vleuels wees in sy groep.

Nkosi het aan rugbyskrywers gesê hy het “eers wakker geword nadat ek die drie gedruk het”.

“Ek gaan nie jok nie, ek dink aan niks nie. Jou instink neem oor en hoewel dit so vinnig gebeur, voel dit nie so nie.”

Het hom! Nkosi druk sy tweede drie Saterdag op Loftus. Foto: Gallo Images

Hy het ’n vraag oor sy kanse om die WB-groep te haal net so netjies gesystap.

“Ek wens ek kon ’n antwoord gee. Ek het net my taak verrig en die span probeer help om te wen.

“Ja, dit gee ’n ou plesier om drieë te druk, maar dit is net lekker wanneer jy wen.

“Jy kan vyf drieë druk, as jou span steeds verloor, tel dit nie veel nie.”

Cobus Reinach, wat in die nr. 9-trui begin het, is self bestem om sy land in Japan te verteenwoordig.

“Daar is nog niks bevestig nie en ons almal probeer om op daardie vliegtuig te kom,” het hy die praatjies in die kiem gesmoor.

Dié 29-jarige skrumskakel het in 2015 net-net uitgemis toe Heyneke Meyer sy groep vir die WB-toernooi gekies het.

Reinach sê daardie teleurstelling het hom aangevuur om ’n beter rugbyspeler te word.

“Ek het nooit besluit om die Springbokke opsy te skuif nie. Dit het altyd my doelwit gebly.

“Ek moes weggaan (hy speel vir Northampton in Engeland) om dit te bereik en hopelik kry ek nou die geleentheid.”

Meer oor:  S’Bu Nkosi  |  Argentinië  |  Bokke  |  Springbokke  |  Poemas  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.