Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Opbou na WB 2019:
‘Ek moes groei om Bok te waardeer’

Aanvanklik is ’n mens as speler desperaat om vir die Bokke te speel, maar wanneer dié doelwit eers behaal is, tree daar dikwels ’n donkerder emosie in, het Rassie Erasmus aan Brenden Nel vertel.

Dit was kort voor middagete by die Springbokke se hotel in Umhlanga op 14 Junie 1999 toe die nuus aan die media gebreek is.

Arthrob Petersen, die Springbokke se spanbestuurder van destyds, het begin deur te sê Gary Teichmann het in die vorige naweek se toets teen Italië in Port Elizabeth ’n besering opgedoen en die Bok-kaptein moet vervang word. Nick Mallett, het Petersen verklap, wou Rassie Erasmus sy kaptein maak, maar die Springbok-flank het nee gesê. Erasmus wou eerder net op sy spel konsentreer.

Corné Krige sal in Teichmann se afwesigheid die Bokke lei.

Die storie van Erasmus se nee vir die Bok-kapteinskap het tussen al die rugbygebeure weggeraak en omtrent nie ’n haan het weer daarna gekraai nie.

In ’n openhartige gesprek met Rapport vertel Erasmus vir die eerste keer wat daardie tyd gebeur het, hoekom hy nee vir die Bok-afrigter gesê het, en hoe dit sy siening oor die Bokke verander het.

Erasmus glo in openhartigheid – as ’n speler, kaptein en afrigter. Eerlikheid is dus ’n groot faktor in sy benadering tot rugby.

“Destyds was ek nie gereed daarvoor nie. Ek was nie ’n kaptein nie. Ek was ’n bietjie van ’n stoutgat en ek sou nie in die spanomgewing kon lei nie. Ek het geweet die kaptein is die een wat vir die span en vir Suid-Afrika iets spesifieks moet beteken, iemand spesiaal en iemand na wie die spelers en die land kan opkyk,” het Erasmus aan Rapport gesê.

“Die Bok-kapteinskap is ’n ‘statige ding’, dis iemand wat ’n leier vir die groep moet wees, maar nie noodwendig ’n taktikus nie.

Nick Mallett

“Daai tyd wou ek net goeie rugby speel en al kon ek die spel en spelers analiseer en ’n wedstryd goed lees en verstaan, het ek nie die status in die span gehad wat ek gedink het ’n leier moet hê nie. Ek was ’n 26-jarige outjie wat nie gedink het dat ek in daardie stadium waardig en ‘solied’ genoeg is om die kaptein van ons land se nasionale span te wees nie”

Joost van der Westhuizen het die span later daardie jaar na die 1999-Wêreldbeker gelei, Corné Krige en André Vos sou ná hom die leiersarmband oorneem. Erasmus het vir die eerste en enigste keer as Bok-kaptein uitgedraf teen Australië tydens die Drienasiereeks in Brisbane. “Daar was te veel ouens beseer. Ek was die enigste senior speler in die span oor wat nie beseer was nie en toe Mallett my vra om die span te lei, het ek die verantwoordelikheid gevat,” het Erasmus sy ja vir die kapteinskap verduidelik.

Die Bok-afrigter is reguit en eerlik dat hy as ’n jong speler net rugby wou speel. Hy wou nie kaptein wees nie.

Vandag, 20 jaar later, besef hy dat só ’n siening sy voor- en nadele het. Hy erken dat dit sy internasionale rugbyloopbaan verkort het en hom ook sekere geleenthede laat misloop het.

“Ek is mal oor rugby. Ek het langs ’n rugbyveld grootgeword op Despatch. Danie Gerber en Pote Human was helde. Despatch was in my grootwordjare ’n rustige plekkie.

“Naweke was egter anders. Dan is daar rugby gespeel op die dorp en mense was vuur en vlam.

Trane oor dié Bokke

Rassie Erasmus moes al ’n paar moeilike en groot besluite in sy afrigtingsloopbaan neem, maar hy sê die heel moeilikste dag vir hom as Bok-afrigter was toe hy uit sy vergrote Springbok-groep sy finale Wêreldbekergroep van 31 spelers moes aanwys en aan vyf spelers moes sê hulle het dit nie gemaak nie.

“Nou dat ons op pad is na die eerste wedstryd teen Nieu-Seeland in Jokohama, is daar spelers wat miskien deur die res van Suid-Afrika vergete is, maar Lizo Gqoboka, Rynhardt Elstadt, Thomas du Toit, André Esterhuizen en Marvin Orie sal in my gedagtes wees,” het Erasmus aan springbokmagazine.com gesê.

“Ek moet erken dat daar ’n paar trane gestort is toe ek by elkeen van hulle gaan sit het om die slegte nuus aan hulle te gee. Maar ek kon nie almal kies nie.

“Op ’n ander tyd en ’n ander plek kon hulle maklik op die vliegtuig gewees het.”

Voordat Erasmus sy vergrote groep tot sy finale groep van 31 spelers moes verklein, het die spelers “familie” van mekaar geword.

“Die afskeid van die ongelukkiges was nie maklik nie. Ek is baie dankbaar vir die bydrae wat hulle op die veld gelewer het en vir hul gesindheid,” het Erasmus gesê. - Hendrik Cronjé

“Vir my as seuntjie en ’n skoollaaitie het dit gevoel of Despatch net rugby is en net rugby het. En rugby was my alles, ek het lekker op die rugbyveld grootgeword.

“As kind was die Bokke daardie tyd nie die groot ding vir my nie. Danie Gerber was ’n groot ding. Despatch se rugbyklub was ’n groot ding vir my. Dit was my lewe. Ek het daardie tyd nie oor die Springbokke gedink of gedroom nie. Ek wou net rugby speel. Heeltyd. Altyd.

“Ek het ook nooit gedroom om geld uit rugby te maak nie. En toe ek vir die Springbokke begin speel het, kon ek dit ook nie waardeer soos ek moes nie. In 2001, toe ek 29 jaar oud was, het ek my laaste wedstryd vir die Springbokke gespeel en daarna net in die Curriebeker.

Rudolf Straueli (toe Bok-afrigter) het my later gevra om weer vir die Bokke te speel en ek het dit van die hand gewys, want ek wou eerder net Curriebeker-rugby speel.

“Nou, as ’n ouer persoon en as die afrigter, verstaan en weet ek eers hoe ’n groot ding dit is om by die nasionale span betrokke te wees.

“Ek dink ek waardeer die Bokke nou regtig vir die eerste keer. ’n Mens word mos groot. Jy raak volwasse.

“Ek praat uit eie ervaring as ek vir die spelers sê dat daar ’n siklus in elke speler se loopbaan is. Dit begin met die desperaatheid om vir die Bokke te speel. Dan sit jy daar en dink jy is ’n Bok. Later dink jy die Springbok-trui kom jou toe. Dat jy daarop geregtig is.

“Ek het te vinnig deur daardie siklus gegaan – van die desperate speler tot die een wat dink dis sy reg.”

Erasmus se kop as Bok-breier is gryser en wyser as toe hy die trui self gedra het.

En hy beken weer openhartig en reguit: “Ek wil so graag hê die Bokke moet die ding raak waaroor mense weer praat en wat vir die hele land iets beteken. Hel, ek waardeer die Bokke nou. My oë het oopgegaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.