
Simon Zebo is nie ’n aanhanger van Israel Folau nie. Foto: Getty Images
Die Franse klubspan Racing 92 se Ierse heelagter Simon Zebo sê hy sal weier om Israel Folau se hand te skud – om nie eens te praat van saam met hom speel nie.
Daar is toenemende gerugte dat die omstrede voormalige Wallaby-ster sy terugkeer na die vyftienmanspel saam met ’n Franse klubspan beplan.
Folau het in 2019 vir opslae gesorg toe hy sy lonende kontrak met Rugby Australië (RA) kwyt was nadat hy gewaagde uitlatings op sosiale media gemaak het.
Hy het vroeg in 2020 ’n ooreenkoms met die Franse Superliga-span, die Catalan Dragons, gesluit. Maar gerugte dat verskeie Top 14-spanne, insluitende Toulon, in sy dienste belangstel, doen die afgelope ruk die ronde.
Zebo was ’n gas op Rugbypass se Offload-poduitsending en het dit duidelik gemaak dat hy nie ’n aanhanger van Folau is nie.

Israel Folau gaan moontlik in ’n Franse klubspan tot die vyftienmanspel terugkeer. Foto: Getty Images
Hy het onder meer gesê dat hy nie eers die Aussie se hand sal skud nie en dat hy geen tyd vir die voormalige toetsspeler het nie.
Zebo voer ook aan dat Toulon se belangstelling in Folau geloofwaardigheid aan sy “negatiewe oortuigings” sal verleen – iets wat sleg vir rugby se beeld in die geheel is.
Folau (31) en RA het in Desember 2019 ’n skikkingsooreenkoms bereik nadat hy die trekpas gekry het weens sy uitlatings op sosiale media dat “dronklappe, homoseksuele, egbrekers, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodsdienaars” hel toe sal gaan.
Dié fundamentalistiese Christen, wat 73 toetse vir die Wallabies gespeel het, is ook in Augustus gekritiseer vir sy besluit om nie saam met sy spanmaats te kniel voor die Dragons se Superliga-wedstryd teen St Helens nie. Folau het bly staan terwyl ander spelers en wedstrydbeamptes gekniel het by die Headingly-gronde in Leeds, Engeland, ter ondersteuning van die Black Lives Matter veldtog.
– Sportredaksie