Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dokumente oor tugsaak werp lig op WP-rasseherrie
Njengele: ‘Ek vertrou wit mense nie’

Skokkende uitlatings van rassisme deur Gerald Njengele, die gewese vise-president van die Westelike Provinsie Rugby-unie (WPRU), het aan die lig gekom.

Rapport het getuienis uit Njengele se tugverhoor, waarin hy aangekla is van die oortreding van die unie se gedragskode, eksklusief bekom.

Gerald Njengele

Njengele is verlede jaar vier jaar lank geskors nadat hy tydens die Kaapstadse sewestoernooi teen wit- en bruinmense uitgevaar het. ’n Appèlkomitee het hom later kwytgeskeld, waarna Njengele uit sy pos bedank het. Die WPRU het sy bedanking destyds as “grootmoedig” beskryf.

Njengele was op 9 Augustus 2017 by die Citypark-rugbysta­dion in ’n onderonsie betrokke met Jessie Claassen, nasionale bestuurder van die SA Rugbylegendes se Vuka-skolerugbyprogram. Claassen het eers met Ronald Bantom, gewese bestuurslid van WPRU, vasgesit, waarna Njengele toegetree het.

Toe Claassen en Njengele mekaar verlede jaar by die Sewestoernooi by die Kaapstad-stadion in ’n BBP-losie raakloop, het Claassen geweier om Njengele se hand te skud. Njengele het toe, in die teenwoordigheid van Paul Zacks, WP Rugby se uitvoerende hoof, en talle ander senior bestuurslede van die unie gesê “I don’t trust whites”.

Die uitlating het veral vir Zacks hewig ontstel omdat hy nie geweet het of dit op hom gemik is nie, terwyl Danny Jones, die WP se bestuurder van amateursake, ongemaklik daaroor was.

Jones het volgens die dokumente in Rapport se besit probeer om die stelling af te maak deur vir Njengele te vra of hy na Remgro verwys het.

Njengele het glo ook die woorde ““F**k you white people, f**k the coloureds. I’m a clever darkie. I don’t need your f***ing money” gesê. In sy tugverhoor het hy dit ontken, maar wel erken hy het “I don’t trust white people” gesê, met verwysing na Remgro.

Hy het ook in sy tugverhoor gesê “Moslems hou daarvan om te baklei” en dis hoekom hy daarvan hou om as skeidsregter in hul wedstryde op te tree.

Jones het getuig Njengele het nooit sy gevoelens jeens Remgro weggesteek nie omdat hy meen Afrikaners het die land “gesteel”. Remgro het die WP vroeër met verskeie lenings bygestaan. Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, het by navraag aan Rapport gesê hulle was nie bewus van Njengele se uitlatings nie. “Dit het geen impak op ons verhouding met WP nie.”

Njengele het in sy tugverhoor gesê “I don’t trust white people” is ’n tema wat glo op die 2018-bosberaad van die WPRU aangeneem is en hy het dit bloot herhaal. In die tugverhoor is bevind WP deel nie dié sentiment nie.

Claassen het ná die voorval in die losie ’n klag teen Njengele by die unie ingedien.

Hy het lank ná die tugverhoor gesukkel om dokumentasie daaroor te kry. Die unie is beskuldig dat hy die saak onder die mat probeer invee.

Claassen sê hy oorweeg siviele stappe teen Njengele omdat hy vrygespreek is in die appèlsaak. Zacks het nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

Zelt Marais, WPRU se president, sê daar is teen Njengele opgetree, maar hy is kwytgeskeld. Hy wou nie sê waarom dokumente oor die tugverhoor nooit aan Claassens uitgereik is nie.

Claassen sê dis duidelik uit die dokumente dat Njengele nie vrywillig geloop het nie.

“Die WPRU se vorige bestuur het besef sy volgehoue betrokkenheid by die unie sou verreikende gevolge vir die unie inhou,” het Claassen gesê.

“Sy houding jeens wit en bruin mense en die Moslem-gemeenskap, wat die grootste ondersteunersbasis van die WP uitmaak, is skokkend.”

Njengele is genader om kommentaar, maar het nie daarop gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.