Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ek’s onskuldig, sê Jurie oor US-saak

Die hofsaak tussen Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), en die Universiteit Stellenbosch (US), wat Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad sou begin, is vir eers uitgestel.

“Die saak is nou weens administratiewe redes en tydsbeperkings by ooreenkoms tussen die partye onbepaald uitgestel,” het Frikkie Erasmus, Roux se prokureur, aan Netwerk24 gesê.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, en die Universiteit Stellenbosch sê mekaar van volgende week die stryd aan in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Gallo Images

Die US, wat Roux se werkgewer was voordat hy in 2010 by Saru aangestel is, dagvaar hom vir R37 miljoen vir beweerde finansiële ongerymdhede in sy tyd as die US se direkteur van finansiële beplanning en batebestuur. Daar word aangevoer dat hy die geld op onregmatige wyse oorgedra het na die Maties-rugbyklub, waar hy die voorsitter was.

Roux het in hofstukke, wat Vrydag ingedien is, ten sterkste ontken dat enige van sy aksies in sy hoedanigheid by die Maties-rugbyklub op verliese vir die US uitgeloop het.

Hy bevraagteken ook waarom die US “miljoene rande” bestee om jag op hom te maak en voer aan dat die US nie belangrike dokumente aan sy regspan beskikbaar wil stel sodat hy hom teen van die aantygings kan verdedig nie.

Die universiteit het nie ’n verlies gely deur enige van my aksies nie. Ek het baie hard, baie doeltreffend en met groot sukses gewerk om die universiteit se finansiële posisie en bestuurstelsel te versterk.
Jurie Roux

“Die universiteit het nie die R37 miljoen verloor wat hy van my eis nie. Die saak wat die universiteit voorlê, asook sy eie dokumente en kennersverslag dui daarop dat die geld bestee is aan wettige uitgawes wat vir en tot voordeel van die universiteit was,” sê Roux.

“Die universiteit het nie ’n verlies gely deur enige van my aksies nie. Ek het baie hard, baie doeltreffend en met groot sukses gewerk om die universiteit se finansiële posisie en bestuurstelsel te versterk.

“Die werk wat ek gedoen het (saam met ander), het die universiteit in staat gestel om groot waarde uit die handelsmerk van Maties-rugby te ontgin. In en rondom 2008 en 2009 was die universiteit se handelsnaam op sowat R100 miljoen gewaardeer. Maties-rugby is een van die belangrike komponente van daardie handelsnaam.”

Roux sê desondanks gaan die US enorme onkoste aan om die saak teen hom te dryf.

“Die universiteit is ’n ryk instelling, maar dis onwaarskynlik dat hy selfs ’n klein bedrag van daardie onkoste sal kan verhaal. Terselfdertyd word daar vir etlike jare al breedvoerig berig oor die saak teen my,” sê hy.

Roux sê berigte dat Chris de Beer, die tweede verweerder in die saak, in hegtenis geneem is en dat nóg inhegtenisnemings verwag word, het hom ook aansienlike skade berokken.

De Beer, wat destyds die US se hoof van studentegeld en ook ’n spelersagent was, het na bewering met Roux saamgespan. 

“Daar is dikwels berig dat ander partye ook in hegtenis geneem gaan word met ’n foto van my wat geplaas is. Tot dusver is ek nog nie in hegtenis geneem nie, maar daardie dreigemente het uiteraard my benadering en voorbereiding vir die siviele saak, asook my familie, my professionele en persoonlike lewe, beïnvloed,” sê Roux.

Roux verwerp ook die stelling in ’n ouditeursverslag deur KPMG dat hy “potensieel” voordeel van R55 250 uit universiteitsgelde getrek het.

“Dis onwaar. Dis wel waar dat ek vir Chean Roux (destyds die Maties se afrigter) gevra het om R55 250, wat hy op legitieme wyse van die US ontvang het, aan my oor te betaal. Dit was vir ’n terugbetaling vir uitgawes wat ek uit my eie sak vir universiteitsonkoste moes aangaan,” sê hy.

Roux aanvaar dat hy in daardie geval nie volgens prosedure opgetree het nie, maar voeg by dat die dokumente wys die onkoste wat hy aangegaan het eintlik R62 643 was. Dit dui daarop dat hy ’n verlies gely het.

Oor ’n aantyging dat hy kontrakbreuk gepleeg het ingevolge sy dienskontrak, sê Roux dat hy steeds op die US wag om die regulasies wat toe van toepassing was, aan sy regspan te gee.

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Maties  |  Universiteit Stellenbosch  |  Jurie Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.