Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engeland gee planlose Hane pak

Dit was ’n kragmeting wat jou laat wonder het of Engeland regtig so briljant was en of die span se sege van 44-8 oor Frankryk op Twickenham in die Sesnasiesreeks meer te doen het met die besoekers se versukkeldheid.

Maak geen fout nie, Engeland was dodelik klinies wanneer die Hane foute gemaak het en takties uitgeslape met die losskakel Owen Farrell weer op sy stukke.

Engeland se losskakel, Owen Farrell, duik oor vir sy drie teen Frankryk. Foto: Reuters

Maar dié poging van Frankryk het nogmaals die jammerlike agteruitgang van Les Bleus vergestalt.

Die Hane was passieloos, planloos en op die dag ’n verleentheid vir dié eens trotse rugbyland.

Engeland se wenresep was eenvoudig en baie doeltreffend: skop en wag vir die Franse om blapse te maak. En dít het die Hane met oorgawe gedoen.

Die oorheersing was so omvangryk dat die Engelse vleuel Jonny May ná minder as ’n halfuur nadat daar afgeskop is, ’n driekuns aan drieë agter sy naam gehad het.

Frankryk het geen antwoord gehad nie en was regdeur onbeholpe onder die hoë bal.

Daar is verwag dat die besoekers voor met ’n groot fisieke aanslag sou kom, maar hiervan het ook nie veel gekom nie.

Dit was eerder die Rose met die Vunipola-broers, Billy en Maku, aan die voorpunt, wat op die voordeellyn hulle gewig rondgegooi het.

Die bieliesenter Mathieu Bastareaud het hom Sondagaand knaend in die Engelse verdedigingslinie vasgeloop.Foto: REUTERS

Met ’n onaanvegbare voorsprong van 30-8 teen rustyd was dit net ’n geval van hoe ver die Engelse sou wen.

Genadiglik vir die Hane het die tuisspan in die tweede skof met minder intensiteit gespeel en duidelik die voet van die versneller gehaal.

’n Strafdrie en ’n drie deur Farrell het Engeland verby die 40 punt-kerf geneem, terwyl Frankryk, ondanks meer as genoeg besit en gebiedsvoordeel, nie in die tweede helfte punte kon aanteken nie.

Engeland het met die oorwinning by Wallis aangesluit as die enigste onoorwonne spanne in die reeks.

Eddie Jones se span lyk ewe skielik weer na die gedugte een wat ’n seisoen of wat gelede toetse op ’n streep gewen het.

Verlede seisoen is daar in die Engelse media bespiegel dit is net ’n kwessie van tyd voor Jones die valbyl kry en nou is die Rose stewig op koers om later vanjaar as die Sesnasieskampioen in Japan aan te kom vir die Wêreldbeker-toernooi.

Klop Engeland die Drake oor twee naweke in Cardiff, sal daar geen keer aan die Rose wees nie.

Punte

Engeland 44 (30). Drieë: Jonny May (3), Henry Slade, Strafdrie, Owen Farrell. Strafdoele: Farrell (2). Doelskoppe: Farrell (3).

Frankryk 8 (8). Drie: Damian Penaud. Strafdoel: Morgan Parra.

Meer oor:  Frankryk  |  Hane  |  Engeland  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.