Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engeland klap Iere met rekordsege

Wallis se rugbyspan sal nog ’n week bo aan Wêreldrugby se ranglys bly nadat Engeland Ierland Saterdag met 57-15 op Twickenham vermorsel het.

Eddie Jones se span het net verlede week nog teen Wallis die knie gebuig, maar het dié slag voor hul tuisskare verseker hulle het iets om oor opgewonde te raak met die oog op die Wêreldbeker-toernooi wat om die draai is.

Pure vreugde! Joe Cokanasiga druk sy tweede drie vir Engeland in hul 57-15 vertrapping van die Iere.Foto: Getty Images

Die Iere moes die wedstryd wen om net-net voor die Rooi Drake in te glip in die voorste plek op die wêreldranglys, maar die Rose het uiteindelik die praatwerk op die veld gedoen en agt keer agter die doellyn gaan draai.

Vir Engeland het alles op die veld soos ’n goed geoliede masjien geloop met hul verdediging wat die Iere disnis geduik en gedwing het om foute te begaan wat die tuisspan dan soos blits uitgebuit het.

Die buitesenter, Manu Tuilagi, was kolossaal op die aanval, terwyl die vleuel Joe Cokanasiga ook nie teruggestaan het nie en met twee drieë beloon is.

Dit was ’n ongewone swak dag op kantoor vir die Iere, wat kort ná die aanbreek van die tweede helfte eenvoudig gelyk het of hulle reeds die wit vlag begin waai het.

So pateties kan ’n span wat die All Blacks verlede November nog geklop het, sekerlik nie wees nie?

Ná ’n middelmatige Sesnasies-reeks, waar die Iere teen Engeland (20-32) en Wallis (7-25) vasgeval het, sal daar rede tot kommer vir Joe Schmidt wees.

Engeland het talle nuwe rekords met dié oorwinning in hul geskiedenisboeke geskryf.

Dis die meeste punte wat hulle nog teen Ierland kon opstapel, met die vorige beste van 50 wat in 2000 vermag is toe hulle met 50-18 baas was.

Dit is die grootste punteverskil (42) nog tussen die twee spanne, met die vorige beste van 40 wat in 1997 behaal is vir ’n 46-6 wen.

Die Iere sal boonop asem ophou nadat sy loskopstut, Cian Healy, die veld enkele sekondes voor halftyd moes verlaat met ’n beenbesering. Die erns van die besering moet nog bepaal word.

* Puntemakers:

Engeland (22): Drieë: Joe Cokanasiga (2), Elliot Daly, Manu Tuilagi, Maro Itoje, George Kruis, Tom Curry, Luke Cowan-Dickie. Doelskoppe: Owen Farrell (6), George Ford. Strafskop: Farrell.

Ierland (10): Drieë: Jordan Larmour, Bundee Aki. Doelskoppe: Ross Byrne. Strafdoel: Ross Byrne.

Meer oor:  Eddie Jones  |  Twickenham  |  Ierland  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.