Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engeland wen Sesnasies ná Hane kraai

Tot op die dag 52 weke nadat hulle meedoënloos afgestof is in die Wêreldbeker-eindstryd in Japan, het Engeland Saterdagaand ’n ander titel beklink.

Die Engelsman Tom Curry se vreugde is duidelik nadat hy een van Engeland se drieë in hul bonuspunt-sege teen Italië gedruk het. Ure later is die Rose as Sesnasies-kampioen gekroon, nadat nie Frankryk óf Ierland hulle op die punteleer kon inkatrol nie. Foto: AP

Die Sesnasies-trofee sal weer op Twickenham staan gemaak word nadat die Engelse Saterdag in Rome genoeg gedoen het om ’n bonuspunt teen Italië te verdien – en dít genoeg was om vir sowel Ierland as Frankryk van die deur te hou.

Eddie Jones se span was maar so-so teen Italië, en kon eers in die tweede helfte beheer van sake neem. ’n Oorwinning met 34-5 het hul punteverskil nietemin die wêreld se goed gedoen voor die wedstryd laat Saterdagaand tussen Frankryk en die Iere.

Albei laasgenoemde spanne se taak was daarna duidelik. Ierland sou die Sesnasies-kroon uit Engelse hande hou deur Frankryk met sewe punte of meer te klop. Die Fransmanne se berg was hoër: ’n bonuspunt-sege met meer as 31 punte was nodig om hul naam op die trofee te kry.

Uiteindelik het nie een van dié scenarios gerealiseer nie. Frankryk het die reeks se laaste wedstryd met 35-27 gewen nadat veral die skakelpaar van Romain Ntamack en Antoine Dupont skitterspel gelewer het. Met hulle aan die spits het die Hane wel die nodige bonuspunt verdien, deur vier drieë te gaan druk – maar hul verdediging het te dikwels tekort geskiet vir hul sege om groot genoeg te wees.

Waar Frankryk gewys het die voormalige Engeland-afrigter Clive Woodward se voorspelling die afgelope week dat hulle in 2023 die Wêreldbeker kan wen, is allesbehalwe vergesog, het Ierland knaend teen homself saamgesweer.

Die span in groen het sakke vol balbesit gehad, maar dit telkens verspeel met wilde aangeë, bottervingers of swak lynstaanwerk.

Die Iere se hoogtepunt was ’n wonderlike individuele drie deur die senter Robbie Henshaw, wat verby ’n rits verdedigers gewals het om sy span weer hoop te gee. Met hul agterstand in daardie stadium 8 punte en ’n kwartier oor op die horlosie, kon Ierse ondersteuners ’n bietjie meer positief voel.

Antoine Dupont storm pale toe vir Frankryk se eerste drie teen Ierland. Dupont was een van die uitblinkers in die Hane se oorwinning oor Ierland. Foto: AP

Maar Ntamack het kort daarna self ’n stukkie towerkuns gelewer, toe hy sy eie kort lugskoppie opgevolg het en Virimi Vakatawa in besit gestel het vir die drie wat Ierland se doppie finaal geklink het.

’n Troosdrie vir Jacob Stockdale in die doodsnikke van die wedstryd was te min en te laat – en eintlik net meer sout in die wonde van ’n Ierse span wat met groot verwagtinge vir die wedstryd aangetree het.

• In Saterdag se eerste Sesnasies-wedstryd is die Walliese kaptein, Alun Wyn Jones, se 149ste verskyning vir sy land liederlik bederf deur Skotland.

Die Skotte het vir die eerste keer in 18 jaar ’n wegsege oor die Walliesers behaal, toe hulle met 14-10 baas was in ’n winderige Parc y Scarlets-stadion in Llanelli. Hulle was rustyd met 6-7 agter.

Wallis het gehoop om Wyn Jones ’n ekstra rede vir feesviering gegee, op die dag wat hy sy nasie se mees ervare speler ooit geword het.

In plaas daarvan het die kaptein met ’n suur uitdrukking van die veld gestap nadat sy span hul vierde agtereenvolgende nederlaag gely het. Skotland, daarenteen, het hul laaste drie wedstryde van die reeks gewen.

Meer oor:  Frankryk  |  Ierland  |  Engeland  |  Sesnasiesreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.