Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engelse jag Lambie en Reinach

Springbok-rugby staal hom vir ’n groot aanslag van oorsee om twee van Suid-Afrika se voortreflikste spelers Brittanje toe te lok.

Pat Lambie

Die Engelse klubspan Northampton Saints is glo bereid om groot geld te betaal om Pat Lambie en Cobus Reinach as ’n skakelpaar te koop.

Daar word gesê dat dié Engelse klub bereid is om sy geldtrommel tot op die bodem leeg te maak om dié twee Bokke te kan werf.

Saints was die afgelope tyd onsuksesvol om Dan Biggar, George Ford of Aaron Cruden as ’n plaasvervanger vir JJ Hanrahan te lok, nadat die Saints-losskakel hom by Rassie Erasmus se Ierse klubspan Munster aangesluit het.

Lambie is nou in die klub se visier as plaasvervanger vir Hanrahan. Saints se belangstelling in Reinach het vroeër al bekend geword.

Die Haaie en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) is bewus van die Saints se “belangstelling” in die twee Haai-spelers. Lambie het egter ’n Springbok-kontrak met Saru, wat beteken dat Saru nie op die kantlyn staan in onderhandelinge nie. Saru sal ’n belangrike sê hê oor die uitkoms van enige gesprekke met Lambie.

Vir Saru kan hierdie twee spelers se voortgesette verbintenis tot plaaslike rugby óf hul vertrek oorsee ’n groot uitdaging stel op ’n tydstip dat die beheerliggaam op die punt is om ’n kiesbeleid ten opsigte van oorsese spelers neer te lê. Die verwagting is dat dié kiesbeleid veel strenger riglyne sal vervat en oorsese spelers gepenaliseer sal word met die kies van die toetsgroepe.

Lambie en Reinach kan ’n nuwe trek van plaaslike spelers tot gevolg hê, want spelers soos Ruan Combrinck, Jan Serfontein, Siya Kolisi, Lood de Jager en Lwazi Mvovo se name is glo ook op die gesamentlike inkopielys van oorsese klubs.

Cobus Reinach

Anders as Lambie het Reinach nie ’n Bok-kontrak nie en staan dit hom vry om hom by die Stormers-skrumskakel Nic Groom by Saints aan te sluit.

Dis onwaarskynlik dat die Haaie in Lambie se pad sal staan om oorsee te gaan, al is hy so ’n waardevolle speler én kaptein van die Superspan.

Die Haaie het wel in Curwin Bosch, Inny Radebe en Benhard Janse van Rensburg jonges met die potensiaal om Lambie se skoene te kan volstaan.

Lambie is een van Allister Coetzee se gunstelingspelers. Die Bok-afrigter sal hom ten alle koste in die land wil hou. Hy het so ’n hoë dunk van Lambie dat Coetzee hom selfs vroeër vir die kapteinskap oorweeg het.

Die 26-jarige losskakel van die Haaie sal egter ’n besluit moet neem oor sy langtermyntoekoms.

Handré Pollard se terugkeer tot die spel nadat hy vir lank op die beseringslys was, kan Lambie se besluit beïnvloed. Op goeie spelpeil sal Pollard sy plek in die Bok-span waarskynlik eerder gouer as later herwin. Dit kan beteken dat Coetzee uit een van Lambie en Elton Jantjies sal moet kies vir ’n tweede losskakel.

Maar Saru het met Lambie se Bok-kontrak die hef in die hand. Die vraag is of hulle dit sal gebruik om die Springbok-losskakel vir eers te dwing om hier te bly speel.

Meer oor:  Cobus Reinach  |  Pat Lambie  |  Northampton Saints
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.