Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engelse klubs speel ná net 3 weke se kontak
Die Springbok-vaskopstut Vincent Koch sien uit om die oefenveld vir die ware Jakob te verruil wanneer Saracens Saterdag teen die Bristol Bears speel. Foto: Getty Images

Dit kan Suid-Afrika se rugbyspanne dalk loon om hul huiswerk in Engeland te gaan doen sodat hulle, indien nodig, vinniger kontakfiks kan raak vir wanneer die plaaslike seisoen hopelik aanstaande maand hervat.

Met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie wat nog finale goedkeuring by die regering moet kry vir kontakoefening, raak die tyd min indien die beginsel toegepas word dat spanne minstens vier weke nodig het alvorens hulle weer sal kan speel.

Vincent Koch, die Engelse klub Saracens se Springbok-vaskopstut, sê egter dat hulle net in hul derde week van volle kontak is voordat wedstryde dié naweek hervat.

“Ons is nou in ons derde week waar jy aan jou rugbyfiksheid kan werk en ’n bietjie meer volle kontak kan maak in oefensessies,” het hy vandeesweek aan Netwerk24 gesê.

“In ’n gewone voorseisoen het jy gewoonlik vier weke nodig, maar ons het dit in twee weke ingedruk. Dis seker die hardste wat ek tot dusver in ’n voorseisoen gewerk het.

“Ons het nie veel tyd gehad om wedstrydfiks te raak nie, maar hulle het ons lywe op so ’n wyse gekondisioneer dat ons beslis gereed sal wees.”

Volgens Koch was die oefensessies só hard dat dit omtrent soos ’n wedstryd gevoel het. Saracens se spelers het verlede Vrydag onderling in ’n wedstryd gespeel om op te warm vir Saterdag se kragmeting met die Bristol Bears.

Hul “tweede” voorseisoen – weens die opskorting van rugbykompetisies as gevolg van Covid-19 – het oor agt weke gestrek. Soos in Suid-Afrika kon hulle aanvanklik net in klein groepies oefen, maar hulle het soos die regering dit toegelaat het geleidelik opgebou tot waar daar weer voluit geoefen kon word.

Covid-19-regulasies oor sosiale afstand kan meebring dat spanne nou meer as een bus nodig het om by stadions uit te kom. Foto: Getty Images

Die reëls ten opsigte van Covid-19 word intern streng toegepas.

Spelers word op Maandae getoets en kan eers weer oefen indien daar op Dinsdae sekerheid is dat hulle nie Covid-19 onder lede het nie. Daarna word hulle op Woensdae wéér getoets.

Die klub se base het hulle versoek om nie te veel buite hul families te sosialiseer nie.

“Almal weet dat die res van die span ’n duur prys gaan betaal as jy dom is en in kontak kom met iemand wat Covid-19 het. As jy die virus onder lede kry, sal jy vir twee weke nie mag speel nie,” sê hy.

Spelers gaan ook met maskers op hul spanbus, of dalk spanbusse, moet klim vir die rit stadion toe.

“Daar moet sosiale afstand tussen die spelers op die bus gehandhaaf word. Ek neem aan ons gaan twee of meer busse nodig hê. Dis interessante tye, maar die span en rugbyspelers oor die hele Europa doen mee,” sê hy.

Spelers gaan ook gewoond moet raak aan die vreemdheid van speel in leë stadions, maar vir Koch is dit nie ’n groot faktor nie.

“Ons groep het die laaste paar weke só gegroei dat die stadion sonder toeskouers ons nie sal pla nie. Dis onbekende terrein, maar ons is gemaklik daarmee,” sê hy.

“Ek is nie die grootste liefhebber van ’n voorseisoen nie en ek’s bly daardie agt weke is nou verby. Ek sien uit daarna om op ’n ander vlak weer moeg te raak.”

Dié naweek se Premierliga-wedstryde

Vrydag: Harlequins t. Sale Sharks.

Saterdag: Worcester Warriors t. Gloucester; Exeter Chiefs t. Leicester Tigers; Bath t. London Irish; Bristol Bears t. Saracens.

Sondag: Northampton Saints t. Wasps.

Meer oor:  Covid-19  |  Engelse Premierliga  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.