Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engelse klubs sê ook steun aan BLM toe
Die oud-Springbok Juan de Jongh en sy spanmaats by Wasps gaan hierdie naweek kniel ter ondersteuning van Black Lives Matter. Foto: Getty Images

Engeland se 12 Premierliga-rugbyklubs gaan hierdie naweek hande vat en voor elke wedstryd ’n gebaar maak as ’n teken van respek vir swart lewens en ter ondersteuning van rassegelykheid.

Dit sal onder die vaandel van “Rugby Against Racism” gedoen word, het Premiership Rugby, die liga se beheerliggaam, Woensdag in ’n nuusverklaring gesê.

Daar word gehoop om beroepsrugby op klubvlak in Engeland meer divers en verwelkomend te maak en om ’n inklusiewe omgewing vir personeel, spelers en ondersteuners te skep.

’n Werksgroep van swart spelers sê in Premiership Rugby se verklaring dat hulle trots is om hul ondersteuning aan die “positiewe boodskap” van Black Lives Matter (BLM) toe te sê.

“Dis nie ’n geval van steun vir ’n politieke filosofie nie. Ons staan verenig in die stryd teen rassediskriminasie in ons sport en samelewing,” sê Premiership Rugby namens dié groep.Premiership Rugby het hom ook tot die volgende verbind:

• Om meer gekleurde afrigters en skeidsregters op vlak 3 op te lei. Geleenthede gaan ook geskep word vir mentorskap deur huidige direkteurs van rugby en wedstrydbeamptes.

• Om sy personeel en gekleurde spelers op te lei om op direkteursvlak te dien.

• Om te volhard met Project Rugby, wat toegang vir jong gekleurde spelers vergemaklik. Hierdie projek het oor die laaste vier jaar 13 500 jong mense vir die eerste keer aan rugby blootgestel.

• Om aanstellingspraktyke onder oë te neem.

• Om met gekleurde spelers in gesprek te tree om seker te maak dat hulle veilig voel.

Darren Childs, uitvoerende hoof van Premiership Rugby, sê in die verklaring dat dit uiters belangrik is om die sport meer inklusief te maak.

“Daar moet dringend verandering kom. Ek ondersteun ons Rugby Against Racism-program heelhartig en sal seker maak dat dit deurgevoer word om ’n positiewe verskil in die sport en samelewing te maak,” sê hy.

Die individuele klubs se planne is soos volg:

Bath: ’n Groepie sal gevorm word as ’n gebaar van eenheid en toewyding tot rassegelykheid.

Bristol Bears: Die span sal in ’n hartformasie staan, met die 23-tal wat elke speler, personeellid en ondersteuner van die klub verteenwoordig.

Exeter Chiefs: ’n Gebaar sal gemaak word ter ondersteuning van Rugby Against Racism.

Gloucester: ’n V-formasie sal gevorm word ter ondersteuning van Rugby Against Racism.

Worcester Warriors: ’n V-formasie sal gevorm word.

Harlequins: Spelers sal kniel ter ondersteuning van BLM.

Leicester Tigers: Spelers sal kniel.

London Irish: T-hemde met Rugby Against Racism sal in die span se opwarmingsessie gedra word. Daar sal kort voor die afskop ook ’n gebaar wees.

Northampton Saints: Spelers sal spesiale T-hemde aan hê en ’n sirkelformasie ter ondersteuning van inklusiwiteit en samesyn vorm.

Sale Sharks: Spelers sal T-hemde met die woorde “Rugby Against Racism” aan hê wanneer hulle opdraf.

Saracens: Spelers sal T-hemde met die woorde “Black Lives Matter” in hul opwarmingsessie aan hê, asook ’n gebaar voor die afskop maak.

Wasps: Spelers sal kniel.

Meer oor:  Black Lives Matter  |  Engelse Premierliga  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.