Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engelse slag Iere op patroon van Bokke

Ná Saterdag is dit ’n maklike raaiskoot om Engeland die beste rugbyspan op aarde op dié oomblik te noem. Die Poms het Ierland met 18-7 getroef in Groep A van die Herfsnasiesbeker en dit lyk asof net Frankryk hulle moontlik om dié louere kan uitstof.

LONDON, ENGLAND - NOVEMBER 21: Johnny May of Engla
Jonny May druk Engeland se tweede drie. Foto: Getty Images

Eddie Jones se span het duidelik hul drag slae in die Wêreldbekereindstryd ter harte geneem, want hul vertoning was baie dieselfde as dié waarmee die Bokke hul in Japan uitoorlê het.

Ondanks ’n uiters beroerde lynstaan en ’n skrum wat plek-plek ook nie in rat kon kom nie, het die Iere die leeueaandeel balbesit geniet, maar die Engelse verdedigingspatroon was fyn ingestel deur John Mitchell.

Hoe’s dié vir statistiek: Maro Itoje, losklos die Speler van die Wedstryd, het van slot af 23 duikslae ingekry. Die lostrio van Sam Underhill, Tom Curry en Billy Vunipola het algar die 20-kerf oortref en die stut Kyle Sinckler het vir nog 20 gesorg.

Nóg ’n slot, Joe Launchbury, het 17 ingekry voordat hy ná ’n uur vervang is. Nes vier van die tien beste slotte op aarde Suid-Afrikaners is, is vier van hulle Engelse. Launchbury, nommer vier in hul ry, was manjifiek, al is hy deur Itoje oorskadu.

Tussen hulle het hulle soveel druk op die Iere gesit dat dié letterlik nooit na die wenspan gelyk het nie, ongeag deur hoeveel fases hulle is terwyl hulle vergeefs vir skoon bal probeer sorg het nie. Itoje- en Underhill-hulle het die losbal genoegsaam vertraag dat gate nooit agterlangs opgeduik het nie.

Dit het ook nie gehelp dat Ierland die relatiewe groentjie Ross Byrne weens beserings buitekant Jamison Gibson-Park op losskakel moes inspan nie. Die twee van hulle het nie vreeslik gereeld skoon bal gekry nie, ter versagting, maar dinge was duidelik beter toe Billy Burns en die veteraan Conor Murray hulle laat in die tweede helfte vervang het.

Burns het amper dadelik vir Jacob Stockdale deurgejaag met ’n behendige skop in die kassie, maar teen daai tyd was dit lankal duidelik wie sou wen.

Die Engelse vleuel Jonny May, met ’n Movember-snor wat hom na ’n drilsersant uit die 1940’s laat lyk, het twee skitterende drieë gaan druk. Die eerste een, ná ’n dwarsskop van Owen Farrell, was amper formele teksboekrugby, maar die skouspelagtige tweede het in die Engelse kwartgebied losgebars.

May, ’n man propvol van die X-faktor, het ’n rolskop deur ’n nou gaatjie gedruk voordat hy sokkerstyl verder vorentoe geskop het om self op te volg en Ierland se doppie min of meer amptelik te klink ná ’n skrale 21 minute.

Ierland se hope balbesit was steriel. Daar is baie meer aan rugby as wie die hardste stamp en stoot, maar as een agttal feitlik nooit ’n duik in die ander kan maal of grawe nie, is hulle gedoem.

Engeland het selfs ’n Bomb Squad tot hul beskikking gehad: hul reserwevoorspelers was man vir man 8 kilo’s swaarder as dié van die Iere. Op Saterdag se vorm is dit miskien net die Hane wat nou sal kan saamgesels.

Die Engelse tradisionele swakheid is egter oorhaastige windgatgeit, so dit gaan interessant wees om te sien wat volgende gebeur. Saterdagaand sal Eddie Jones egter heerlik slaap.

Puntemakers:

Engeland 18 (12): Johnny May (2). Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell (2).

Ierland 7 (0): Drie: Jacob Stockdale. Doelskop: Billy Burns.

• In Llanelli het Wallis ná ses agtereenvolgende nederlae sy wendroogte uiteindelik gebreek en met 18-0 oor Georgië geseëvier.

Puntemakers:

Wallis 18 (10): Drieë: Louis Rees-Zammit, Rhys Webb. Doelskop: Callum Sheedy. Strafdoele: Sheedy (2).

Georgië: 0

Meer oor:  Herfsnasiesbeker  |  Ierland  |  Engeland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.