Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Enorme eer, sê Duane oor Bul-taak
Duane Vermeulen is die Bulle se nuwe kaptein. Foto: Getty Images

Die voorste speler verlede jaar in die Wêreldbeker (WB)-eindstryd in Japan, Duane Vermeulen, is die nuwe leier in die Bul-kraal.

Twee ander Bokke, Gio Aplon en Arno Botha, is as sy adjudante aangewys.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle, het onlangs gesê Vermeulen is ’n “ooglopende keuse”, maar hy wil eers sekerheid kry oor dié kolos se beskikbaarheid vanjaar vir die Pretoriase span.

Die ervare Springbok-agtsteman het die Bulle verlede seisoen in twee Superrugby-wedstryde en Suid-Afrika in twee toetse in die Rugbykampioenskap gelei.

Vermeulen sê dit is ’n “enorme eer” om met die verantwoordelikheid toevertrou te word.

“Dit is altyd ’n voorreg om rugby te speel en dit is iets wat ek nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. So ook om as die kaptein van hierdie groep aangewys te word, veral in dié opwindende tyd waar daar so baie van ons verwag word.

“Baie dankie aan Jake en die bestuur vir jul vertroue in my. Dié jaar is ’n moeilike een vir baie Suid-Afrikaners, maar wanneer rugby terugkeer, sal ons oorgehaal wees om Bul-ondersteuners trots te maak,” verseker Vermeulen.

Anton Leonard, voormalige Bul-kaptein en verlede jaar een van die span se hulpafrigters in die Superreeks, sê White het ’n goeie besluit gemaak.

“Dit was eintlik nie ’n moeilike keuse nie. Duane is ’n ervare leier en die spelers respekteer hom. Hy was by die WB-toernooi een van die Bokke se groot leiers en die Bulle was verlede jaar ’n goeie 20% beter wanneer hy in die span was.”

Leonard sê Vermeulen is ’n tradisionele Bul-kaptein.

“Hy lei met sy voorbeeld op die veld en stel hoë standaarde aan sy spanmaats. Ek glo Jake sou al begin dink het aan ’n opvolger vir Duane, maar vir nou is hy sonder twyfel die regte man.”

Burger Odendaal was nog in Maart op die Bulle se toer in Australië die span se kaptein, maar daar was sedertdien ’n groot omwenteling by Loftus Versfeld gedurende die pandemie-inperking.

Pote Human, hoofbreier, het met White se koms vroeër as wat beplan is gegroet en daarmee saam het Odendaal se aandele gedaal. Hy het sedertdien saam met ander Bulle soos Jaco Visagie, Divan Rossouw en Wiehahn Herbst by die Leeus gaan wortel skiet.

Botha (28), wat weer ’n Bul geword het nadat hy in 2018 vir Munster in Ierland gespeel het, is ’n oudkaptein wat die Ligbloues onder meer in 2016 se Curriebeker-eindstryd teen die Cheetahs gelei het.

Aplon sal agterlangs in beheer wees en het ’n belangrike rol in die lig daarvan dat White ’n onervare en onbeproefde senterkombinasie sal kies.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Jake White  |  Bulle  |  Pretoria  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.