Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Erasmus kies span 30 000 voet bo aarde
Die Springbokbreier, Rassie Erasmus, spreek die media toe ná Saterdag se sege oor die Wallabies.Foto: Getty Images

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, sou sy huis- en dinkwerk oor Saterdag se toets teen die All Blacks in Wellington iewers in die lug op ’n vliegtuig gedoen het.

Nadat sy span die Wallabies Saterdagaand op Ellispark met 35-17 verslaan het, was dit ’n dolle jaagtog om by die lughawe te kom en ’n vlug via Singapoer na Nieu-Seeland te haal, waar die All Blacks Saterdag in Wellington op hulle wag.

“Ek wil nou net rustiger raak en goed op daardie vlug gaan dink oor dinge,” het Erasmus gesê.

“Ons (afrigtingspan) sal op die vliegtuig sit en ’n span kies wat die All Blacks moet pak. Wat vandag hier gebeur het (teen Wallabies), kan my denke verander. Daar is ’n paar ouens wat my nou laat besluit het om hulle saam te vat Nieu-Seeland toe.

Ons sal op die vliegtuig sit en ’n span kies wat die All Blacks moet pak. Wat vandag hier gebeur het (teen Wallabies), kan my denke verander.
Rassie Erasmus

“Ons sou eers net so ’n groep van 31 soontoe gevat het, maar nou sal dit 34 wees,” het Erasmus gesê.

Een van daardie spelers is Herschel Jantjies, wat met ’n skitterdebuut twee drieë gedruk het. Hy het met tye soos ’n Divan Serfontein van ouds gelyk het en sy plek op Saterdagaand se vlug bespreek.

Erasmus het ook onthul dat die Springbokke ná die toets teen die All Blacks nie al die pad gaan terugkom Suid-Afrika toe nie, maar in Nieu-Seeland aanbly vir ’n oefenkamp van tien dae, waarna hulle Argentinië toe vlieg vir die kragmeting met die Poemas.

Daar het teen die einde van verlede week reeds 13 Springbokke oorgevlieg Wellington toe, met agt spelers en die vyf afrigters wat Saterdagaand gevolg het.

Volgens Erasmus sal daar ook Sondag en Maandag nog spelers op die vliegtuig wees om hulle by die Bokgroep in Nieu-Seeland aan te sluit. Van die spelers sal eers Dinsdag in Wellington aankom. Die spelers wat Saterdagaand saam met Erasmus gevlieg het, is Eben Etzebeth, Jesse Kriel, Pieter-Steph du Toit, Rynhardt Elstadt, Trevor Nyakane, Elton Jantjies, Herschel Jantjies en Bongi Mbonambi.

Marcell Coetzee, Francois Louw, Lood de Jager, Beast Mtawarira, Schalk Brits, Cobus Reinach, Sbu Nkosi, Makazole Mapimpi, Frans Steyn en Vincent Koch het Sondag gevlieg, terwyl Liza Gqoboka, Warrick Gelant, Marvin Orie en André Esterhuizen hulle later in die week by die groep aansluit. Marco van Staden en Dillyn Leyds is vrygestel om terug te keer na hul provinsies.

Die All Blacks bly maar altyd die groot maatstaf.
Rassie Erasmus

Te midde van die groep wat so stuksgewys in Nieu-Seeland sal aankom, het Erasmus erken die stryd teen die wêreldkampioen en onbetwiste voorste span ter wêreld gaan ’n grote wees.

“Die All Blacks bly maar altyd die groot maatstaf. In die laaste paar kragmetings tussen ons was daar nie veel te kies nie.

“Slegs enkele punte was die verskil tussen wen en verloor en dus voel ek hierdie kragmeting kan enige kant toe gaan.

“Die sege oor hulle in Wellington verlede jaar gee ons ook baie vertroue en die ouens weet nou hulle kan soontoe gaan en wen,” het Erasmus gesê.

Die rede vir die Bokke se lang pad via Singapoer na Nieu-Seeland het volgens Erasmus met die beskikbare begroting te doen.

Na verneem word, was daar nie genoeg geld om die meer regstreekse en vinniger roete oor Australië na Kiwiland te vlieg nie. 

Die Bok-groep vir die All Black-toets is: Voorspelers: Schalk Brits, Marcell Coetzee, Lood de Jager, Thomas du Toit, Pieter-Steph du Toit, Rynhardt Elstadt, Eben Etzebeth, Lizo Gqoboka, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Francois Louw, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Tendai Mtawarira, Franco Mostert, Trevor Nyakane, Marvin Orie, Kwagga Smith, RG Snyman, Duane Vermeulen.

Agterspelers: Lukhanyo Am, Damian de Allende, Faf de Klerk, André Esterhuizen, Warrick Gelant, Elton Jantjies, Herschel Jantjies, Cheslin Kolbe, Jesse Kriel, Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi, Willie le Roux, Handré Pollard, Cobus Reinach, Frans Steyn.

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Wellington  |  Nieu-Seeland  |  Toets  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.