Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs én SA rugby in die knyp

Die Toyota Cheetahs word deur ’n “ernstige uitdaging” in die gesig gestaar nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) besluit het om die Bulle, Stormers, Leeus en Haaie in die Pro16-reeks te laat speel en die Toyota Cheetahs en Kings “in die koue te los”.

Só het Jerry Segwaba, president, Woensdag in sy jaarverslag op die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) se algemene jaarvergadering in Bloemfontein gesê. Hy voorsien finansiële probleme vir die unie, maar het ook gesê Saru se besluit kan selfs Suid-Afrikaanse rugby nadelig raak.

“Dit is ’n baie uitdagende aspek van ons sakeonderneming wat die unie, die maatskappy, en die hele onderneming raak en wat uiteindelik ook ’n nadelige uitwerking op Suid-Afrikaanse rugby sal hê.”

Hoe onregverdig Saru se besluit is, word deur die Pro14-statistieke onderstreep. Die Cheetahs het op twee na die meeste drieë in die 2019-’20-seisoen gedruk. Die span se 47 drieë is slegs oortref deur Leinster (68) en Glasgow Warriors (49). Ulster het ook 47 drieë gedruk. Die Cheetahs se puntegemiddeld van 26,3 per wedstryd is ook die vierde meeste. Die Cheetahs het 22 van hul drieë van lynstane gedruk.

Segwaba het gesê hy is hoopvol dat onder die leierskap van Ryno Opperman, voorsitter, en Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetah-maatskappy, asook die res van die bestuurspan, nuwe kompetisies en geleenthede vir inkomste ondersoek sal word.

Jerry Segwaba, president van die Vrystaatse Rugbyunie.Foto: Argief

Segwaba het nie uitgebrei op watter kompetisies ondersoek word nie. Hy het wel gewaarsku dat daar uitdagende tye vir rugby in die algemeen ná die Covid-19-pandemie voorlê. Die unie sal ook in amateur-rugby in die provinsie moet herbelê.

Hy het die borge uitgesonder wat by die unie gestaan het, veral Toyota Suid-Afrika wat die Cheetahs deur dik en dun bygestaan het.

Segwaba het gesê dit was Verster se laaste algemene jaarvergadering in dié pos en hom bedank vir al die jare wat hy Vrystaat-rugby met “passie en trots” gedien het. Hy sal ná sy uittrede as konsultant by die Cheetahs aanbly.

“Hy was ’n strydros en ’n lewenslange leier vir die Vrystaat en Cheetahs. Hy het vir die Vrystaat begin speel en deur die geledere opgang gemaak om die besturende direkteur te word.”

Verster (70) se betrokkenheid by Vrystaat-rugby strek oor meer as 50 jaar.

Hy het 14 wedstryde op flank vir die Vrystaat gespeel, waarvan drie saam met sy broer, Basie. Hy het in 1993 president van die VRU geword en later die unie die beroepsera ingelei.

“Sy onwrikbare verbintenis tot die unie en die franchise, met die ondersteuning van sy gesin, staan uit. Hy was die man wat die Vrystaatse Rugbyunie van amateur- na professionele rugby gelei het. Hy het die eertydse Vodacom- en later die Toyota-borgskappe onderhandel,” het Segwaba gesê.

  • Die VRU het hulde gebring aan vriende en oudbestuurslede wat in 2020 dood is: Willem Beyleveld, Abrie de Vos, Jakes Jacobs, Stevan Cloete, brig. Johan de Beer, Cedric Carson, oudvisepresident, en Ewie Cronjé.
  • Die volgende oudspelers is ook vanjaar dood: Willie Venter (1970), Herman van Heerden (1978-1984), Des Jankielsohn (1952), Hendré (Muis) Viviers (1982/’88/’90), Kaunda Ntunja (2004-2005), adv. Kammie Strydom (1971), Willem Hefer (1970-’71 en 1975), Gerald Steyn (1952-1956), Koppie Marais (1959/’61-’65) en me. Juangelique Holtzhausen (2018-’19.
Meer oor:  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.