Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Etzebeth slaag toets, sê oudkapteins
Eben Etzebeth staan verslae ná die Bokke se rekordnederlaag van 57-0 teen die All Blacks in Albany. Suid-Afrika het goed teruggeveg ná die slagting. Foto: Getty Images

Toe Eben Etzebeth die Bokke in die derde toets teen Frankryk in die beseerde Warren Whiteley se afwesigheid op die veld gelei het, het die rugbypubliek dié skuif met ’n mate van agterdog bejeën.

Die grootste kwelpunt in die meeste kringe was Etzebeth se bullebaketiket en sy brandmerk as ’n speler wat soms kop verloor.

Ná daardie toets het Etzebeth die Bokke strykdeur hul Rugbykampioenskapsveldtog aangevoer. Drie oud-Bokkapteins sê Etzebeth het in die algemeen goed gevaar, maar daar is steeds uiteenlopende menings oor sy temperament.

“Hy het deurgaans verbeter. Tog is daar aspekte waaraan hy moet aandag gee, soos met die Israel Folau-geval,” sê die voormalige Bok-kaptein Gary Teichmann.

Teichmann verwys na ’n voorval in die gelykoptoets (27-27) teen die Aussies in Bloemfontein. Die Wallaby-heelagter, Folau, het die Bok-vleuel Dillyn Leyds aan die hare getrek. Etzebeth het sy humeur verloor en op Folau afgestorm en hom gestamp.

“Maar sulke goed gebeur. Hy moet net sorg dat hy sy aggressie beheer, want hy is van nature ’n aggressiewe speler,” sê hy.

Etzebeth het nog altyd aangevoer dat die siening van hom as ’n vuil speler, ’n wanopvatting is.

Teichmann was wel beïndruk met Etzebeth se leierskap in Saterdag se nederlaag van 24-25 teen Nieu-Seeland in Kaapstad.

Etzebeth is op sy beste met die bal in die hand wanneer hy swakpunte in die verdediging probeer uitbuit met krag én voetwerk en nie net in die naaste verdediger inboender nie.
Gary Teichmann

“Saterdag was hy goed, hy het die spelers aan die gang gehou. Veral in daardie tien minute wat die spanne aanhou speel het nadat die rustydsirene reeds geloei het, het hy die spelers gefokus gehou.

Eben Etzebeth gedurende die Rugbykampioenskapstoets teen Nieu-Seeland op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Hy lei deur voorbeeld, veral wat sy fisiekheid betref. Dit maak dat sy spelers, veral die jong spelers, hom respekteer,” sê Teichmann.

Kapteinskap het duidelik geensins ’n negatiewe invloed op Etzebeth se eie spel nie. Hy het vanjaar weer kookwaterspel gelewer. Die tien keer dat hy duikslae gebreek het, was die meeste in die Rugbykampioenskap. Hy is boonop die voorspeler wat die derde meeste veld gewen het (329 m).

“Daar is beslis ’n groot verbetering sedert verlede jaar, maar toe was almal power. Etzebeth is op sy beste met die bal in die hand wanneer hy swakpunte in die verdediging probeer uitbuit met krag én voetwerk en nie net in die naaste verdediger inboender nie,” sê Teichmann.

Jean de Villiers, wat die Bok-kaptein was toe Etzebeth sy buiging in 2012 gemaak het, sê hy is beïndruk met Etzebeth se vordering as ’n leier.

“Hy het destyds nie noodwendig as ’n leier uitgestaan nie, maar hy was nog baie jonk. Ek moet sê dat hy sedertdien baie gegroei het en as ’n leier na vore getree het,” sê De Villiers.

“Ek dink hy het baie goed gevaar en hy sal met tyd net beter raak. Die spelers reageer wanneer hy iets vra.”

De Villiers sê Etzebeth was nog altyd op sy beste as hy aggressief speel, maar hy het geleer om sy aggressie te beheer.

Dit was eintlik maar net in die toets in Albany waar alles verkeerd gegaan het. Daar het sy gebrek aan ervaring as ’n kaptein gewys.
Wynand Claassen

“Mense kan hom dalk kritiseer vir die Folau-voorval, maar ek dink dit was wonderlik dat hy sy spanmaat wou help.”

Eben Etzebeth praat met die skeidsregter Ben O’Keeffe in die Bokke se toets teen die Wallabies in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Hy voel ook Etzebeth sou baie leer uit die rekordnederlaag van 57-0 teen Nieu-Seeland in Albany en dat ’n kaptein altyd kan verbeter wat taktiese besluite betref.

Wynand Claassen, wat die Bokke in 1981 en 1982 in sewe toetse aangevoer het, sê Etzebeth het bewys hy kan koelkop bly.

“Hy het bewys hy kan kalm bly en steeds binne die perke aggressief wees. In daardie opsig het hy baie gegroei,” sê Claassen.

“Dit was eintlik maar net in die toets in Albany waar alles verkeerd gegaan het. Daar het sy gebrek aan ervaring as ’n kaptein gewys. Toe die lynstane nie werk nie, moes hy byvoorbeeld liewer besluit om voor te gooi.

“Maar ná Whiteley, wat ’n gebore leier is, se besering, is Etzebeth by die diepkant ingegooi,” sê hy.

Claassen is ook beïndruk met die manier waarop Etzebeth die span bymekaar gehou het ná Albany.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.